On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Anny
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

South Africa

Inwoners identifiseer klant van vermiste Sodwana-skipper – FOTO

───   09:55 Wed, 20 Mar 2024

Inwoners identifiseer klant van vermiste Sodwana-skipper – FOTO | News Article
Die skipper John Matambu word steeds vermis. Foto verskaf

“Inligting dui daarop dat die man hom moontlik in Maputo bevind.”

Inwoners van Sodwana in KwaZulu-Natal en dorpies in Mosambiek het ’n man wat met die verdwyning van die skipper John Matambu (68) en sy uitgebrande boot verbind word, geïdentifiseer. Die man het Saterdag Matambu se boot vir ’n vaart gehuur, waarna die boot Sondag uitgebrand en verlate op ’n strand in Mosambiek gevind is.

Op Facebook het mense hom herken as ene Ferdi of Thomas Visser, ook bekend as André Cilliers of Adriaan Coetzee. Inligting wat bekom is nadat owerhede van Suid-Afrika en Mosambiek leidrade opgevolg het wat deur Matambu se vriende en kollegas verskaf is, dui daarop dat die man hom moontlik in Maputo bevind.

’n Foto van die man wat op Facebook geplaas is, het heftige reaksie uitgelok. Hy is glo van Komatipoort . Foto: Facebook 

Matambu se susterskind, Candice Eilertsen, het met OFM Nuus inligting oor die soektog gedeel wat ’n duideliker prentjie skets van wat met haar oom gebeur het. Volgens dié inligting het Matambu en die man Saterdagoggend soos vooraf afgespreek hul bestemming by die Island Rock-strand aan die Mosambiekse kus aangekom, waarna Matambu ’n boodskap gestuur het om te sê hy keer binnekort terug.

Dit blyk die boot is daarna 10 km die see ingeneem waar Matambu se selfoon weggegooi is. Die boot het hierna teen hoë spoed gevaar en is vanaf verskeie lodges langs die kus opgemerk tot naby die strand van Dobela, waar die boot aan die brand gesteek is.

Die boot is later aan die brand gesteek. Foto verskaf 

Die man is gesien waar hy op pad was na Ponta Mamoli. Dit is bevestig dat hy 'n nag in een van die hutte in die dorpie deurgebring het nadat hy om 19:00 daar aangekom het. Hy het aan inwoners gesê hy was in ’n kwadmotorfietsongeluk. Hy het ook twee visstokke in die dorpie verkoop.

Hy het twee tasse by hom gehad wat hy heeltyd by hom gehou het. Die Sondagoggend het inwoners hom kos gegee waarna hy per taxi deur Zitundo na Maputo gereis het, waar hy omstreeks 15:30 aangekom het. Die taxibestuurder het bevestig die persoon van belang was in die voertuig en dat hy geld van die taxibestuurder geneem het om verder te reis. 

‘Motorfiets het in sandduine onklaar geraak’

Shane Rajbully sê hy het die man die vorige naweek opgemerk waar hy met ’n rugsak en motorfietshelm in die rigting van Sodwana gestap het. “Hy het ons vertel hy het hulp nodig want sy motorfiets het in die sandduine onklaar geraak. Hy het ons vertel hy en sy vrou sou die motorfiets die volgende gaan haal.”

Die skipper John Matambu is nog nie gevind nie. Foto verskaf

Intussen is daar nog geen spoor van Matambu nie. Sy suster, Cherie Eilertsen, sê op Facebook “die pyn en angs oor my kosbare broer is ondraaglik”.  “John is 'n absolute visvanglegende en seker die mees geliefde mens wat ek ken. Duisende mense het hulp, gebede, bote en vliegtuie aangebied.” Sy pleit dat die man wat hom ontvoer het “hom nie seermaak nie”.

Sy vriend Marcus Joubert beskryf hom as “my mentor, 'n hengelvriend en legende in ons bedryf. 'n Man wat elke hengelaar se hart op een of ander manier aangeraak het.”

Die man het glo die aand voordat Matambu verdwyn het, in ’n kroeg in Sodwana gesê hy is terminaal siek en wil vir oulaas die see saam met sy vrou en dogter invaar. Hy het glo reeds ’n boot gehuur maar dit is gekanselleer.

“My oom het toe aangebied dat hy sy boot kon huur om hom en sy gesin uit te neem, maar die volgende oggend het net die man opgedaag,” sê Candice. “Wat daarna gebeur het is onduidelik. Daar is baie bespiegelings maar die hoop bestaan dat my oom ongedeerd gevind sal word.”

‘Inwoners het hom Matambu genoem’

Sy het aan News24 gesê haar oom se van is eintlik Derksen, maar ná sy aankoms in Sodwana jare gelede is hy die naam Matambu deur plaaslike inwoners gegee.

“Sy verloofde was Sondag in ’n toestand. Sy het ineengestort en moes verdoof word. Matambu is 'n talentvolle visserman wat oor die afgelope 30 jaar baie mense op wonderlike visvanguitstappies geneem het.

"Hy is die wonderlikste, snaaksste en mees charismatiese persoon. Hy is 'n mensemens. Ons is almal hoopvol hy sal terugkeer en die mees legendariese storie sal hê om vir mense te vertel."

‘Smokkelsindikikaat is ’n geloofwaardige gevolgtrekking’

Op Nuuspod bespiegel die aanbieder, Izak du Plessis, saam met luisteraars of die insident verband hou met diamantsmokkelary. “’n Smokkelsindikikaat is ’n geloofwaardige gevolgtrekking.”

Cecilia van der Westhuizen sê op Facebook dit is duidelik die verdagte persoon het probeer om die grens per land of per see oor te steek. “Hy het in Sodwana ’n storie vertel oor sy motorfiets wat gebreek het. ’n Aantal mense het ons genader met bevestigings dat hy op soek was na 'n skipper.”

‘Dit was sy sterwenswens’

Op die webwerf vir buitelugentoesiaste, 4x4 Community, word vertel die verdagte persoon is na ’n plaaslike kroeg om uit te vind of daar ’n skipper is wat hom kan uitneem en het vir Matambu gesê hy het 'n breingewas en net 'n kort tydjie om te lewe. Dit was sy sterwenswens om see toe te gaan, selfs net vir twee uur, saam met sy gesin.”

Saterdagaand het die Nasionale Seereddingsinstituut alarm gemaak dat Matambu en sy passasier nie na Sodwana teruggekeer het nie. Die uitgebrande wrak van sy boot, die Magnum Too, is Sondag in die Dobela-streek in Mosambiek, sowat 170 km verder, deur 'n soekvliegtuig opgemerk.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.