On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

South Africa

Theuns Jordaan se pa sterf dag ná huldeblyk-konsert

───   09:25 Mon, 08 Jan 2024

Theuns Jordaan se pa sterf dag ná huldeblyk-konsert | News Article
Die Jordaans. Foto: Facebook

“Hulle drie gaan vanaand ’n vuurtjie in die hemel maak.”

Die ontslape sanger Theuns Jordaan se pa, Willie (82), is Sondagoggend (7/1) in Bloemfontein oorlede, ’n dag nadat kunstenaars en vriende ’n konsert ter ere van sy seun in Kaapstad gehou het.


Netwerk24 berig dat hy in Desember in ’n hospitaal opgeneem is waar hy vir ’n maagkwaal en longontsteking behandel is.

Theuns is in November 2021 weens leukemie dood. Sy ma, Maryna, is ’n week daarna ook oorlede.

Sangers wat Saterdag aan die Theuns Jordaan Tribute-konsert deelgeneem het, is agter Dozi, Kurt Darren, Steve Hofmeyr, Karlien van Jaarsveld, Jay du Plessis en voor Bobby van Jaarsveld en Ray Dylan. Foto: Facebook/Bobby van Jaarsveld

“Hulle drie gaan vanaand ’n vuurtjie in die hemel maak,” het sy suster, Linda, aan Netwerk24 gesê.

’n Jaar ná Theuns se dood het Willie aan Maroela Media gesê hy treur nog diep oor sy verlies. Hy kon hom nog nie sover kry om na Theuns se musiek te luister nie. “Ek weet ek sal weer (die) een of ander tyd na sy strelende stem wil luister en die stories wat hy deur sy musiek vertel, weer geniet. Dit sal kom, dit gaan net tyd neem.”

Oom Willie Jordaan neem afskeid op sy seun se begrafnis in 2021. Foto: Facebook

Hy het ook erken dat hy nie voorheen besef het hoe geliefd Theuns was en hoe wyd sy invloed as kunstenaar gestrek het nie. “Ons het geweet hy verkoop baie van sy musiek, maar ons het nie besef hoe groot die liefde vir hom in die land was nie.”

Aanhangers het hul medelye oor “oom Willie” se heengaan op sosiale media uitgespreek. Die Facebook-blad In Loving Memory of Theuns Jordaan skryf: “Vanaand sing Theuns Jordaan sy mooiste liedjies vir beide sy ouers, hoe pragtig is daardie prentjie nie. Hul hemelshuis is mooi en (hulle) sit van nou af in die voorste ry van Theuns se vertonings.”

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.