South Africa
Klein Kwagga: Hóé vinnig en hóé bekend, kon niemand raai nie─── CORNÉ GREYVENSTEIN 11:34 Sat, 25 Nov 2023
“Daai outjie gaan eendag bekend wees,” het baie mense gesê. Hóé vinnig en hóé bekend, kon niemand egter raai nie. Dis nie enige dansvideo wat binne 'n week minstens 17 miljoen keer gekyk word nie.
“In ’n wereld vol probleme, hartseer en kwaad ... wees eerder soos Klein Kwagga,” het dit opgeklink van die Kaap tot anderkant die Vaal, om die waarheid sê – van oor die wêreld heen.
Klein Kwagga van Mpumalanga het ons hierdie week geleer hoe om weer opreg te lag, die lewe voluit te geniet, om alles te gee en alles te waardeer... en weer kinderlik te huil van dankbaarheid! Daar is niks so opreg soos ’n kind se onskuld en waardering nie.
Jaco en Mercia Jansen van Nieuwenhuizen van Balfour se sewejarige seun, Dirkco, of Klein Kwagga, het die kollig gesteel en vellies en al in miljoene mense se harte gekruip met sy lewenslus en vreugde tydens sy enigste sussie, Elizma, se danskonsert. Sy entoesiastiese danspassies het binne dae miljoene selfone bereik.
Karel en Jenna Olivier van Nigel was Saterdagaand (18/11) op Benoni waar die dansskool René's Art of Dance hul jaareindkonsert in die EnDeo Familiekerk Benoni gehou het. Karel het die video op TikTok gedeel en binne ’n week is daar reeds 16,9 miljoen keer daarna gekyk. Die Jansen van Nieuwenhuysens moes blitsig ’n plan maak met al die belangstelling op sosiale media en danksy Mercia se kleinneef, kan mense nou op TikTok, Facebook en Instagram deur Klein Kwagga vermaak word.
Almal wou dié week die bron van hierdie lewenslus van nader leer ken. Sy week was gepak met mediaonderhoude en tussendeur het hy minstens twee van sy helde ontmoet - Bernice West en Robbie Wessels.
Nou moet die Springbok-skrumskakel Faf de Klerk net met 'n getekende Speedo partytjie toe kom vir ’n driekuns van drome. Die Bulle het Saterdagmiddag kragte teen Connacht van Ierland in die United Rugby Championship gemeet en Klein Kwagga was daar.
“Dirkco se skedule raak voller by die dag,” het ma Mercia gesê. Al die handelsname wat hom wil borg, is nog nie bekendgestel nie. “Sy skedule is nou vol tot die 15de Desember en daarna verdien hy ’n lekker skoolvakansie in die bosveld.”
“Die plantseisoen eis sy tol op die plaas maar ons Klein Kwagga laat ons harte oorborrel van trots, om só skouers te skuur met sy helde en bekendes is vir ons ’n nuwe avontuur. Dit maak alles die moeite werd as ons as ouers ons kinders so gelukkig sien.”
En klein Dirkco se sussie Elizma is net so groot bron van trots. Sy is die Vrydag vóór die konsert as hoofmeisie aangewys en hoef glad nie terug te staan nie. Die gesin het ná die prysuitdeling dankbaar met arms vol bekers, sertifikate en medaljes huiswaarts gekeer. Elizma is ook gekies om Suid-Afrika te verteenwoordig op ’n talentskou in die VSA in 2024.
Klein Kwagga hou al van kleins af daarvan om mense te laat lag. Sy ouers boer op ’n plaas in die Balfour-distrik en hy vermaak hulle gereeld tydens die ritte op pad dorp toe.
Volgens die Balfour Herald sê Judith Sides is sy onderwysers, vriende en familie glad nie verbaas dat dié gr. 1-haasbekkie bekendheid verwerf nie. “Met Balfour se gekombineerde laerskool se onlangse revue ‘Dans in Afrikaans’ het hy aand ná aand die kollig gesteel. ‘Daai outjie gaan eendag bekend wees,’ het baie mense gesê. Hóé vinnig en hóé bekend, kon niemand in Balfour egter raai nie.”
Phillip Breedt, skoolhoof van die Gekombineerde Skool Balfour, sê die skool is “saam met sy familie uiters trots op Klein Kwagga. “Dis ’n mooi, geliefde familie in ons skool en Balfour se gemeenskap.”
Mense vind net eenvoudig aanklank by sy mooi hart en oorgawe waarmee hy altyd alles doen. En orals waar Klein Kwagga gaan, vat hy Hom saam ...