On Now
Weekends 20:00 - 22:00
Sunday Night Nadine
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

Klein Kwagga, Robbie Wessels ruk ‘Mphe Di Hoenor’

───   CORNÉ GREYVENSTEIN 11:38 Fri, 24 Nov 2023

Klein Kwagga, Robbie Wessels ruk ‘Mphe Di Hoenor’  | News Article
Robbie Wessels Foto: Facebook

“In ’n wereld vol probleme, hartseer en kwaad ... wees eerder soos Klein Kwagga,” het dit opgeklink van die Kaap tot anderkant die Vaal.

Klein Kwagga van Mpumalanga het ons hierdie week geleer hoe om weer opreg te lag, die lewe voluit te geniet, om alles te gee en alles te waardeer... en weer kinderlik te huil van dankbaarheid. Daar is niks so opreg soos ’n kind se onskuld en waardering nie.

Jaco en Mercia Jansen van Nieuwenhuizen se sewejarige Dirkco, of Klein Kwagga, het die kollig en miljoene harte gesteel met sy lewenslus en vreugde tydens sy sussie Elizma se danskonsert. Sy entoesiastiese danspassies het binne vyf dae vyf miljoen selfone bereik. 

Net soos die koerante, radiostasies, Bernice West, Burre Burger en ’n verskeidenheid handelsname – onder meer die “groen trekkers” se mense – wou almal die bron van hierdie lewenslus van nader leer ken. Sy week was gepak met mediaonderhoude en tussendeur het hy twee van sy groot helde ontmoet. 

Hy het saam met Bernice West op ‘Lyfie’ gedans en ook deur die Brannas-inspekteur Robbie Wessels verras. Hy kon van pure dankbaarheid nie sy trane keer nie en kon uiteindelik sy held styf vasdruk. Hulle het bietjie later ‘Mphe Di Hoenor’ uitgeruk en saamgedans.

Volgens die Balfour Herald sê Judith Sides is sy onderwysers, vriende en familie glad nie verbaas dat dié gr. 1-haasbekkie vellies en al in mense se hart ingekruip het nie. “Met Balfour se gekombineerde laerskool se onlangse revue ‘Dans in Afrikaans’ het hy aand ná aand die kollig gesteel. ‘Daai outjie gaan eendag bekend wees,’ het talle gesê. Hóé vinnig en hóé bekend, kon niemand in Balfour egter raai nie.”

Phillip Breedt, skoolhoof van die Gekombineerde Skool Balfour, sê die skool is “saam met sy familie uiters trots op Klein Kwagga. “Dis ’n mooi, geliefde familie in ons skool en Balfour se gemeenskap.”

Die Jansen van Nieuwenhuysens moes blitsig ’n plan maak danksy al die belangstelling op sosiale media en danksy ’n familielid spog hy nou met sy eie TikTok-, Facebook- en Instagram-profiel. 

Hy hou al van kleins af daarvan om mense te laat lag. Sy ouers boer op ’n plaas in die Balfour-distrik en hy vermaak hulle gereeld in die motor op pad dorp toe.

 



Mense vind eenvoudig aanklank by sy mooi hart en oorgawe waarmee hy altyd alles doen en sal binnekort meer van hom te sien kry op Kyk Wie Praat  op kykNET. En orals waar Klein Kwagga gaan, vat hy Hom saam ...


OFM Nuus/Corné Greyvenstein




@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.