South Africa
Moedersdag word vandag in Suid-Afrika gevier─── 09:14 Sun, 14 May 2023

Lande regoor die wêreld vier Moedersdag op verskillende tye van die jaar.
Die Verenigde State, Australië, België, Denemarke, Italië, Finland en Turkye is van die lande wat jaarliks op die tweede Sondag in Mei hulde bring aan alle ma’s.
In die Verenigde State het hierdie dag sy oorsprong in 1914 gehad. Reeds in 1870 het die digter Julia Ward Howe ’n Moedersdagproklamasie uitgereik om vroue te verenig vir vrede, maar dis eers toe aktivis en Sondagskooljuffrou Anna Jarvis in 1908 die fakkel optel, dat ’n dag om moeders te vier amptelik gevestig is. In 1914 verklaar President Woodrow Wilson die tweede Sondag in Mei as amptelike Moedersdag, waarop liefde en eerbied aan ma’s getoon word.
Moedersdag dateer na alle waarskynlikheid uit die antieke Griekse- en Romeinse tyd. Die Grieke se jaarlikse lentefees is ter ere van die moedergodin Rhea gehou, wyl die Romeine hulde gebring het aan die moedergodin Cybele. In die Verenigde Koninkryk is Moedersdag gekoppel aan Paasfees, en word dit jaarliks gevier op die vierde Sondag van Lydenstyd, wat drie weke voor Paassondag is. In die Midde-Ooste word Moedersdag gevier op Lentedag, 21 Maart.
OFM-nuus/Elsabé de Jager