South Africa
Indië kry meer as 100 jagluiperds van Suid-Afrika─── 17:33 Fri, 27 Jan 2023

Suid-Afrika en Indië het ‘n ooreenkoms aangegaan waarvolgens meer as 100 jagluiperds van Suid-Afrika oor die volgende dekade in die Suid-Asiatiese land gevestig sal word.
Die Departement van Omgewingsake sê die eerste groep van 12 jagluiperds sal volgende maand per vliegtuig na Indië geneem word. Agt jagluiperds het in September uit Namibië in Indië aangekom.
"Die plan is om jaarliks 12 luiperds oor die volgende agt tot 10 jaar te verskuif om 'n lewensvatbare en veilige jagluiperdbevolking in Indië te help vestig," sê die departement in 'n verklaring.
Indië was eens die tuiste van die Asiatiese jagluiperd maar dié spesie het teen 1952 daar uitgesterf, hoofsaaklik weens habitatverlies en jagters wat die dier vir sy kenmerkende vel gejag het.
In 2020 het Indië se hooggeregshof beslis dat Afrika-jagluiperds op ‘n "noukeurig gekose plek" as eksperiment die land ingebring kan word.
Onderhandelinge met Suid-Afrika is reeds lank aan die gang, met die eerste trop jagluiperds wat aanvanklik na verwagting in Augustus na Indië gevlieg sou word.
Hulle word intussen in Pretoria in kwarantyn gehou.
“Die jagluiperds is in kwarantyn en dit gaan nog goed met hulle,” sê Adrian Tordiffe, ’n veeartsenykundige natuurlewespesialis van die Universiteit van Pretoria wat by die projek betrokke is.
Amptenare sê die verskuiwing van Namibië se jagluiperds was die eerste interkontinentale hervestiging van dié dier, die planeet se vinnigste landdier.
Die Namibiese jagluiperds is by die Kuno-nasionale park vrygelaat, 'n wildreservaat 320km suid van Nieu-Delhi wat bekend is vir sy oorvloedige prooi en grasvelde.
© Agence France-Presse