South Africa
Vlakvark soek skuiling in slaghuis─── 06:11 Mon, 19 Dec 2022
Werknemers by 'n slaghuis in Bela-Bela was uit die veld geslaan toe 'n vlakvark onverwags by die winkel ingehardloop kom.
Stephen Nel, eienaar van Camo Meat-wildsvleishandelaar, sê werknemers was besig om die winkel vir die dag te sluit toe 'n vlakvark skielik ingehardloop kom.
“Hy kon nie weer sy pad uit vind nie en het by die kombuis agter die gebou gaan skuiling soek,” het Nel aan Die Pos gesê.
Die plaaslike brandweer is na die winkel ontbied en kon die vlakvark verwyder. Die dier is na die Forever Resorts-natuurreservaat geneem. Inwoners vermoed hy het waarskynlik van daar ontsnap.
Nel het grappenderwys gesê “Pumbaa het kom aanklop vir 'n bietjie salami”.