Offbeat
Weird Wide Web – Vals Instagram huwelik al die tyd die ware jakob─── 15:48 Mon, 20 Jan 2025
’n Australiese vrou het gevra dat haar huwelik in die hof nietig verklaar word, en beweer dat sy daarin mislei is deur haar man wat vir haar gesê het dat dit net ’n stunt was om sy Instagram-aanhang ’n hupstoot te gee.
Die vrou, wie se naam nie deur die hof bekend gemaak is nie, het aan die voorsittende regter vertel dat sy haar man in September 2023 op ’n aanlyn afspraaktoepassing ontmoet het.
Hulle het gereeld in Melbourne uitgegaan, en in Desember van dieselfde jaar het hy haar na ’n “wit partytjie” in Sydney genooi. Hy het vir haar gesê om ’n wit rok saam te bring sodat sy by die tema van die geleentheid kan inpas.
Die jong vrou het ingestem, maar toe sy by die partytjie aankom, was sy geskok en woedend om te sien dat die enigste mense daar haar kêrel, ’n fotograaf, die fotograaf se vriend, en ’n huweliksbevestiger was. Haar kêrel het haar eenkant toe geneem, verduidelik dat hy ’n vals troue beplan het om sy sosialemediavolgelinge te laat groei en haar gevra om die bruid te speel.
“Toe ek daar aankom en niemand anders in wit klere sien nie, het ek hom gevra, ‘Wat gaan aan?’ Hy het my eenkant geneem en gesê dat hy ’n ‘graptroue’ reël vir sy sosiale media, spesifiek Instagram, omdat hy sy inhoud wil verbeter en sy blad wil begin monetiseer,” het die vrou in die hof gesê.
Ten spyte van haar kêrel se verduideliking, het die klaagster agterdogtig gebly. Sy het ’n vriendin gebel en gevra of daar ’n risiko was dat sy regtig getroud sou wees as sy instem om die bruid te speel.
Haar vriendin het gelag en gesê sy sou oukei wees, aangesien hulle eers ’n kennisgewing van voorgenome huwelik moes indien. Sy het geen dokumente onderteken nie, en daarom besluit om voort te gaan met die sogenaamde vals troue.
Lees ook: Feel Good Friday – Hond ná dae gered uit stormwaterdrein
In ’n video wat in die hof gewys is, kan die jong vrou, wat in haar middel-20’s is, gesien word hoe sy entoesiasties die rol van die bruid speel, troubeloftes uitruil en voor die kamera soen. Sy het erken dat sy haar bes probeer het om dit werklik te laat lyk vir haar kêrel se Instagram-volgers, maar gesê dat sy nooit gedink het sy is regtig getroud nie.
Twee maande ná die “graptroue” het die vrou se kêrel haar gevra om hom as afhanklike by haar aansoek om permanente verblyfreg in Australië te voeg, aangesien dit hom sou help om dieselfde te bekom. Beide was immigrante in Australië, maar sy het hom gesê sy kan hom nie byvoeg nie, aangesien hulle nie getroud was nie.
Dis toe dat sy uitgevind het dat die “graphuwelik” eintlik wettig was, en dat hy ’n kennisgewing van voorgenome huwelik met haar vervalste handtekening ’n maand voor hul Sydney-reis ingedien het.
“Ek is woedend oor die feit dat ek nie geweet het dit was ’n regte huwelik nie, en oor die feit dat hy van die begin af gelieg het, en dat hy my wou dwing om hom in my aansoek in te sluit,” het sy aan die regter in ’n gesinshof gesê.
Lees ook: Weird Wide Web – Italiaanse stad verbied mense om siek te word
Die man, wat in sy laat-30’s is, het die vrou se weergawe betwis en beweer dat hy haar die dag voor die troue gevra het en dat sy ingestem het tot ’n “intieme seremonie” in Sydney. Hy het ook beweer dat sy kort ná hul ontmoeting by hom ingetrek het, maar bewyse in die hof het aangedui dat hulle apart gewoon het.
Verskeie dinge in die man se weergawe het nie geklop nie, soos hoekom die troue in Sydney gehou is in plaas van Melbourne, waar hulle albei gewoon het, of hoekom geen vriende of familie teenwoordig was nie. In Oktober verlede jaar het ’n gesinshof in Melbourne ingestem om die huwelik nietig te verklaar.
“Sy het geglo sy speel toneel,” het die regter gesê. “Dit maak perfek sin dat sy die persona van ’n bruid moes aanneem tydens die seremonie, om die geloofwaardigheid van die video wat ’n wettige huwelik uitgebeeld het, te verbeter.”
OFM Nuus mvh