Offbeat
Weird Wide Web: Dorpie te koop─── 15:48 Mon, 14 Nov 2022
Wou jy al ooit 'n dorpie besit om wat ook al mee te maak? Wel, daar is 'n dorpie in Spanje wat jy teen 'n afslagprys kan aanskaf, maar daar is 'n vangplek!
Verbeel jou, ’n hele dorp op jou naam. Dit is iets om van ’n droom, is dit nie? Wel, as jy ’n ekstra R5 miljoen weggesteek in jou sitkamermeubels het: die Spaanse dorpie Salto de Castro, is in die mark vir die afslagprys van $295 000.
Afslagprys ja, want dit was al voorheen vir $6,7 miljoen geadverteer.
Volgens unilad is die dorpie nie te ver van Portugal en sowat drie ure van Madrid af. En vir dié goeie prys kry jy 44 huise, 'n kerk, 'n skool, 'n hotel, 'n swembad en selfs 'n kaserne, alhoewel jy natuurlik kan kies wat jy met al die geboue wil doen.
Die dorpie word (ongelukkig) beskryf as 'n "opknapper se droom" en met goeie rede. Die afgelope 30 jaar al woon daar niemand nie. Dit is met die draai van die eeu deur die huidige eienaar gekoop met die doel om dit in 'n toeristebestemming te omskep.
Die finansiële krisis in die eurosone het egter beteken dat sy planne nooit heeltemal die daglig gesien het nie. Hy sien nie meer kans om die dorp behoorlik te onderhou nie, dus is dit weer op die mark.
Ronnie Rodriguez van Royal Invest, die maatskappy wat die eienaar verteenwoordig, verduidelik: "Die eienaar het die droom gehad om 'n hotel hier te hê, maar die projek is mettertyd gestaak. Hy sal steeds wil hê dat dit voltooi word.”
Die eienaar self sê: "Ek verkoop want ek is 'n stadsjapie en kan nie byhou met die onderhoud nie."
As jy belangstel sal jy egter vinnig moet spring want die dorpie veroorsaak ietwat van 'n opskudding. Daar was al meer as 50 000 besoeke aan die webwerf sedert dit net 'n week gelede teen daardie afslagprys gelys is. Lees meer hier.