Offbeat
Weird Wide Web – Moet eerder nie aan jou sokkies ruik nie─── 15:52 Tue, 15 Apr 2025

’n Chinese man wat ’n gewoonte ontwikkel het om aan sy vuil sokkies te ruik nadat hy dit die hele dag gedra het, is met ’n swaminfeksie in sy longe gediagnoseer.
’n Middeljarige kantoorwerker van Chongqing, wie se naam nie deur die media bekend gemaak is nie, is onlangs in die hospitaal opgeneem met ’n kroniese hoes.
Die man het aan dokters vertel dat sy hoesery onlangs vererger het ten spyte van hoesstroop. Sy oë het ook bloedbelope geraak, wat hom uiteindelik laat besluit het om mediese hulp te soek.
Ná skanderings het dokters ongewone skaduwees in die onderste regterlong opgemerk en ’n brongoskopie het bevestig dat die pasiënt aan ’n swaminfeksie in die longe ly, veroorsaak deur ’n Aspergillus-infeksie. Toe die dokters hom begin uitvra het om moontlike oorsake te vind, het hulle uitgevind dat hy ’n gewoonte ontwikkel het om aan sy eie vuil sokkies te ruik.
Lees ook: Weird Wide Web – Amerikaanse owerhede bedink kreatiewe manier om verkeer te beheer
Tydens ondervraging oor die lugventilasie in sy huis en sy daaglikse gewoontes het dokter Liang Peiqiang ontdek dat die man elke dag, sodra hy van die werk af tuis kom, aan sy vuil sokkies ruik voordat hy dit in die wasmasjien gooi.
Nadat dokters ’n paar van sy vuil sokkies geneem en ontleed het, is spore van Aspergillus gevind. Hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat sy onhigiëniese gewoonte die oorsaak van die longinfeksie was.
Vuil sokkies bevat sweet, sout, ureum en ander stowwe. Die warm, klam omgewing binne-in die skoen bevorder swamgroei. Wanneer jy aan vuil sokkies ruik – selfs al is dit jou eie – verhoog dit die risiko om gevaarlike swamme en bakterieë in te asem.
Indien hierdie patogene verby die neus en keel beweeg, kan hulle die longe bereik en swaminfeksies veroorsaak wat ernstige, langtermyngevolge kan hê.
OFM Nuus mvh