On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Offbeat

Weird Wide Web – Pantoffel laat ouma dalk in die moeilikheid beland

───   15:18 Mon, 14 Apr 2025

Weird Wide Web – Pantoffel laat ouma dalk in die moeilikheid beland | News Article

’n 80-jarige vrou in Turkye staar meer as vier jaar tronkstraf in die gesig nadat sy haar 18-jarige kleindogter met ’n skoen op die arm geslaan het tydens ’n rusie.

Asiye Kaytan woon saam met haar kleindogter, Vural, in die Topraklik-woonbuurt in Denizli, in die suidweste van Turkye. 

Sedert die meisie se ouers geskei is, probeer die 80-jarige vrou haar beskerm – soms selfs teen haarself. Op 9 Augustus verlede jaar, nadat Vural van die werk teruggekeer het, het sy vir haar ouma gesê sy gaan uit met vriende. 

Uit vrees vir haar veiligheid het die ouma gesê sy laat dit nie toe nie, en sy het die deur gesluit om seker te maak dat Vural nie uitgaan nie. Tydens die argument het die jong vrou probeer om die deur oop te sluit, Kaytan het een van haar pantoffels gegryp en haar kleindogter op die arm daarmee geslaan. 

Vural het instinktief teruggeklap en haar ouma met haar selfoon teen die kop geslaan. Kaytan het begin bloei en die bang meisie het dadelik van die partytjieplanne vergeet en ’n ambulans gebel. 

Hulle het nie geweet dat wat as ’n gesinsrusie begin het, later wêreldnuus sou word nie.

LEES OOK: Weird Wide Web – Kind sien ‘regte monster’ onder sy bed

“My kleindogter wou die aand uitgaan, ek het haar nie toegelaat nie en het die deur gesluit,” vertel Kaytan aan Sabah News. “Ek het haar op die hand met die skoen geslaan, en sy het my met haar foon teen die kop geslaan. Toe ek begin bloei, het sy bang geraak en ’n ambulans gebel.”

Kaytan en haar kleindogter het nooit klagtes teen mekaar ingedien nie, maar hulle het wel vir die paramedici vertel hoe die ou vrou die kopwond opgedoen het. Daar is ’n verslag by Denizli Staats­hospitaal ingedien, wat later aan die plaaslike polisie oorhandig is. 

Albei vroue is vir ondervraging ontbied, en, alhoewel hulle verduidelik het dat hulle vrede gemaak het, is ’n openbare saak oopgemaak. ’n Formele klag is teen die 80-jarige ouma ingedien.

LEES OOK: Paasfees-uitstalling in Klerksdorp vra wat as die donkie kon praat?

In hul saak het die vervolging beweer dat die skoen wat Kaytan gebruik het as ’n wapen beskou word, en dat die 18-jarige in selfverdediging opgetree het toe sy haar ouma met die foon geslaan het. Die bejaarde vrou is ook aangekla van “ontneming van vryheid,” aangesien sy Vural in die huis toegesluit en verhinder het om uit te gaan – ’n misdaad waarvoor die maksimumtronkstraf 14 jaar is.

Op 25 Februarie het die 12de Strafhof van Eerste Instansie vir Asiye Kaytan ’n vonnis van twee jaar en ses maande opgelê vir die misdaad van “ontneming van vryheid deur middel van geweld, dreigement of misleiding,” en nog twee jaar en ses maande vir die gebruik van ’n “wapen” teen haar kleindogter. 

Die vonnis is uiteindelik verminder tot vier jaar en twee maande, maar Kaytan se prokureur het appèl aangeteken. Indien die appèlhof die oorspronklike vonnis bekragtig, sal sy tronk toe gaan.

“Gaan ek nou tronk toe op 80? Hoe gaan ek daar oorleef? Ek het operasies gehad en ek loop moeilik. Hulle wil my opsluit oor ’n pantoffel,” sug die ou vrou. 

Lees meer

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.