Offbeat
Weird Wide Web – Amerikaanse owerhede bedink kreatiewe manier om verkeer te beheer─── 15:15 Tue, 08 Apr 2025

Owerhede in Montgomery-gemeenskap, Pennsilvanië, het onlangs sekere strate verander in kronkelende bane in ’n poging om verkeer te vertraag.
Om vir die eerste keer in Gray Lane te ry, is sekerlik ’n belewenis – letterlik én figuurlik.
Die gewone, reguit sperstrepe is vervang met golwende, sigsaglyne wat lyk of dit deur iemand geverf is wat ’n paar drankies geniet het. Maar dié patroon is doelbewus so ontwerp.
Volgens die amptenare van Montgomery-gemeenskap is dié ongewone bane die beste oplossing om spoedoortredings hok te slaan. Polisiewoordvoerders het aan plaaslike media gesê hierdie “verkeersversagtingsmaatreëls” is ingestel ná talle klagtes dat sekere strate as renbane gebruik word.
“Ons verkeersbeamptes en -ingenieurs het bepaal dat dit die beste manier is om die inwoners se veiligheid te verseker,” skryf die plaaslike polisie op Facebook.
“Ja, dit lyk dalk of iemand net sommer strepe geverf het sonder om te weet wat hulle doen, maar dit is nie wat hier aan die gang is nie,” sê Annette Long, ondervoorsitter van die Raad van Toesighouers. “Daar is ’n goeie rede vir wat hier aangaan.”
LEES OOK: Autumn arrives in style with Get It Bloemfontein’s April edition
Long sê dit is maar die nuutste poging om spoedoortredings in Gray Lane te verminder. Spoedhobbels is voorheen oorweeg, maar weens die steil helling van die straat is dit as onprakties beskou.
Spoedlokvalle en polisiemanne aan die onderpunt van die straat is ook al gebruik, maar dié oplossings werk natuurlik nie 24/7 nie. Daarom is daar besluit op dié kronkelende bane as alternatief.
Maar nie almal is beïndruk nie!
“Ek is eerlikwaar geskok. Ek het gedink dis ’n grap, totdat ek die kommentaar gelees het,” skryf een persoon op sosiale media.
“Hoekom sigsaglyne? Mense gaan steeds reguit teen die bult op en weer af, so ek verstaan dit nie,” voeg iemand anders by.
Verkeerskeëls en -tekens is opgerig om motoriste te help gewoond raak aan die ongewone bane, maar Gray Lane verras steeds talle bestuurders wat die eerste keer daar ry.
OFM Nuus mvh