On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Veiligheid en voorbereiding bly sleutel tot landbousektor se sukses

───   08:46 Tue, 15 Apr 2025

Veiligheid en voorbereiding bly sleutel tot landbousektor se sukses | News Article
Foto: Getty Images

In Suid-Afrika se huidige politieke en ekonomiese klimaat word belangrike daaglikse landbousake dikwels oorskadu deur politieke geraas en internasionale handelstwiste, soos die jongste VSA-invoerheffings.

Só meen Wandile Sihlobo, landbousakekamer Agbiz se hoofekonoom. Hy sê hoewel dit reg en belangrik is om op Suid-Afrika se internasionale handelsverhoudinge te fokus – veral wanneer die sitrusbedryf midde-in hul uitvoerseisoen deur heffings geraak word – moet kernkwessies soos diergesondheid nie agterweë gelaat word nie.

“Suid-Afrika het die afgelope paar jaar groot vordering gemaak in die stryd teen voëlgriep, Afrika-varkpes, en bek-en-klouseer. Tog is daar steeds uitbrake in dele van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap, wat aandui dat voortdurende waaksaamheid nodig is. Dieregesondheid moet ’n prioriteit bly vir landbouowerhede én georganiseerde landbou.”

Die veesektor speel ’n kritieke rol in die strewe na groter insluiting in landbou. “Daarom is samewerking met strukture soos die Rooivleisbedryfdienste, die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie, die Nasionale Dieregesondheidsforum en die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging van kardinale belang.” 

Hoewel Suid-Afrika tans nie met die omvang van voëlgriepuitbrake sukkel soos die VSA en die VK nie, moet die sektor proaktief voorberei op moontlike uitbrekings. Dit sluit in die versnelde registrasie van entstowwe – iets waarvoor die pluimveeprodusente al lank pleit. Die pluimvee- en eierbedryf is nie net belangrik vir voedselsekerheid nie, maar ook vir die ekonomiese lewenskrag van baie klein dorpe.

Met pluimvee en vee wat saam byna die helfte van die plaasekonomie verteenwoordig, is dit duidelik dat die sukses van hierdie subsektor onlosmaaklik verbind is aan die algehele groei van die landboubedryf. “Daar is reeds positiewe tekens – soos beter weiding ná gunstige somerreën en laer voerpryse weens goeie mielie- en sojaboonoeste – wat ’n hupstoot aan die bedryf gee.”

Verder het die hervatting van sekere uitvoermarkte Suid-Afrika in staat gestel om sy rooivleisuitvoer te laat groei. “Om hierdie momentum te behou, is dit noodsaaklik dat regering en georganiseerde landbou hande vat in die hantering van dieregesondheid en ook toenemend fokus op probleme soos veediefstal, wat produsente steeds swaar tref.”

“Terwyl groot temas soos die politieke toekoms van die Regering van Nasionale Eenheid en fiskale stabiliteit ons aandag vereis, moet beleidsmakers nie vergeet van die praktiese aspekte wat die daaglikse funksionering van landbou bepaal nie. Dieregesondheid is een so ’n sleutelgebied – en verdien onverdeelde aandag.”

OFM Agri/Verskaf cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.