On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Transformasie, tegnologie en veiligheid op landbou-agenda

───   14:52 Sun, 13 Apr 2025

Transformasie, tegnologie en veiligheid op landbou-agenda | News Article
LUR Elzabé Rockman. Foto: Vrystaatse Landboudepartement

Die Vrystaat beoog om nie net ’n voedselproduserende reus te bly nie, maar ook ’n ruimte vir transformasie, innovasie en geleenthede te skep.

Met ’n visie van verantwoordbaarheid, strukturele hervorming en gemeenskapsbetrokkenheid, het Elzabé Rockman, die LUR vir Landbou en Landelike Ontwikkeling in die Vrystaat, ’n beroep gedoen op inklusiewe deelname in die hernuwing van die Vrystaat se landbousektor – ’n sektor wat nie net kos voorsien nie, maar ook hoop.

“Ons moet saamwerk, nie in opponering nie, maar in opbou. Die taak van voedselsekerheid, grondhervorming en landbouontwikkeling lê voor ons – en dit vereis dat ons almal op dieselfde bus klim.”

Met ’n begroting van R833,7 miljoen vir die 2025/26-boekjaar, het Rockman Vrydag in die Vrystaatse Wetgewer haar begrotingsrede gelewer. “Of jy nou ’n kommersiële boer, opkomende boer, bestaansboer of selfs net ’n tuinier is – elkeen dra by tot voedselsekerheid in die Vrystaat. En ek glo almal in hierdie Huis besef en waardeer daardie rol.”

In sy repliek het dr. Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaatse Wetgewer, ook die belangrikheid van die landbousektor in die Vrystaat beklemtoon, wat ’n noemenswaardige R4 miljard aan salarisse aan inwoners betaal en 75 000 mense direk in diens het.

“Die bydrae van ons boere strek veel verder as die 6% wat in die ekonomiese statistieke verskyn. Dit hou dorpe aan die gang, voed gesinne, en dra tot voedselsekerheid op nasionale vlak by.”

Volgens Statistieke Suid-Afrika het die Vrystaat die tweede grootste inkomste in die land uit landbouverkope, met ’n bedrag van R57,2 miljard – net ná die Wes-Kaap.

Veediefstal as georganiseerde misdaad

Jankielsohn het ernstige kommer uitgespreek oor die uitdagings, insluitend waterbesoedeling deur onbevoegde munisipaliteite, aanhoudende misdaad, swak paaie, en gebrekkige rampsteun tydens veldbrande. “Ons boere word geteiken – deur misdadigers, deur beleid, en dikwels deur ’n vooroordeel in die kriminele regstelsel. Tog is dit húlle wat die land se voedselsekerheid dra.”

Op sy beurt het Armand Cloete, VF Plus-LPW, ’n somber prentjie van die werklikheid op plase in die provinsie geskets, met ernstige bekommernisse oor plaasveiligheid, grensbeheer, grondbesit en ekonomiese wanbalans in internasionale handel.

Het het verder die ekonomiese verhouding tussen Suid-Afrika en China bevraagteken. Volgens hom is die handelsbalans tussen die twee lande met R9 miljard in die rooi ten gunste van China.

Cloete het gesê dat hy onlangs deur die provinsie getoer het en beïndruk was met die groenerige velde ná die reën, maar het gevra: “Is ons boere tevrede? Ons boere is soggens voor sonop op, en gaan saans moeg en gesweet slaap. Hulle werk nie vir eer of erkenning nie, maar vir kos op ons tafels. 

“Tog word hulle deur die natuur én deur die staat geteister – veral deur die groeiende krisis van veediefstal en georganiseerde sindikate wat sonder gevolge voortgaan.”

Rockman het toegegee veediefstal is nie meer net misdaad vir oorlewing nie, maar ’n wel-georganiseerde sindikaat. “Veediefstal in die Vrystaat is ’n mafia. Ons ken die roetes, ons weet waar die vee heen gaan, en ons het dit eerstehands gesien tydens ons grensbesoeke.”

Sy het aangedui haar departement werk saam met die SAPD, SANDF, Grensbestuursagentskap en departement van vervoer aan ’n gesamentlike strategie om veediefstal effektief te bekamp.

Inklusiewe groei, werkskepping

Die departement se 2025–2029 strategiese plan fokus op insluiting van opkomende boere en ekonomiese deelname deur jeug en vroue. Vir 2025/26 is 1 337 aansoeke vir boerderyondersteuning ontvang, met die meeste uit Thabo Mofutsanyana en Mangaung. Hierdie aansoeke vorm die basis van ’n nuwe provinsiale boerderyregister wat in die komende jaar geïmplementeer word.

Die departement het ook die eerste Jeug-in-Landbouberaad in Maart 2025 aangebied, waartydens jongmense aktief aan gesprekke deelgeneem het oor struikelblokke in hul toetrede tot landbou. Een van die kernkwessies wat geïdentifiseer is, is die komplekse en stadige aansoekprosesse. Rockman het aangekondig dat ’n spesiale jeugfonds ingestel sal word om vinnige, korttermyn finansiële intervensies moontlik te maak.

“Ons mag nie toelaat dat burokratiese prosesse ’n jong boer verhinder om sy eerste mielies te plant nie. Dit is ons verantwoordelikheid om strukture op te hef, nie af te breek nie.”

Herlewing van onderpresterende projekte

Die departement het ’n omvattende hersiening van projekte sedert 2018 begin wat as nie-operasioneel of gedeeltelik funksioneel geïdentifiseer is. 25 sulke projekte is in al vyf distrikte aangeteken, en sluit boerderybedrywighede in soos hoenders, groente, varke, akwakultuur en selfs slagpale.

Voorbeelde van intervensies sluit in:

  • Kokoma-varkboerdery in Bothaville, wat finansiële steun ontvang het en nou deur verskeie entiteite geoudit word.
  • Parys-hoenderprojek – ’n ooreenkoms is bereik om alle uitstaande verpligtinge te finaliseer.
  • Parys-groenteprojek en Lesabasaba-groenteprojek in Bloemfontein kry infrastruktuur- en bestuursversterking.
  • Kutlwanong Trust en Khauhelo-projek sal as grondhervormingsinisiatiewe versterkte ondersteuning ontvang.

’n Onafhanklike ondersoekkomitee sal nou alle projekte sistematies evalueer en aanbevelings doen vir toekomstige befondsing.

Begroting en finansiële toewysings

Die departement se begroting vir 2025/26 beloop R833,720 miljoen, met toename in billike verdeling van 0,5%, maar algehele afname van 2,1% teenoor die aangepaste begroting van 2024/25.

Die R533,297 miljoen uit billike verdeling word soos volg toegewys:

  • Administrasie: R223,677 miljoen
  • Volhoubare hulpbronbestuur: R41,489 miljoen
  • Produsentondersteuning: R113,841 miljoen
  • Veeartsenydienste: R53,632 miljoen
  • Navorsing en ontwikkeling: R47,056 miljoen
  • Landbou-ekonomiese dienste: R14,507 miljoen
  • Onderwys en opleiding: R25,207 miljoen
  • Landelike ontwikkeling: R13,888 miljoen

Voorwaardelike toelaes beloop R285,855 miljoen, insluitend:

  • CASP: R194,909 miljoen
  • Ilima/Letsema: R81,195 miljoen
  • LandCare: R9,751 miljoen

Fokus op onderwys en tegnologie

Die Glen Landboukollege was in die nuus vir verkeerde redes ná infrastruktuurprobleme en bestuurskwessies. Die kollege is tydelik gesluit vir herstelwerk, met die doel om op 22 April 2025 te heropen.

“Ons moes dissiplinêre stappe doen teen drie amptenare, met moontlike verdere stappe teen nog vyf,” het Rockman bevestig.

’n Herstelplan is reeds ontwikkel, en die Departement van Openbare Werke en Onderwys help met opgradering en kapasiteitsbou. Glen het in 2024/25 78 diplomas uitgereik, en 390 studente het nasionale sertifikate deur die RPL-program behaal.

Die kurrikulum is hersien om fokus te plaas op biosekuriteit, entrepreneurskap en volhoubaarheid.

Veeartsenydienste, siektebeheer

Die departement het nege provinsiale dieregesondheidsfasiliteite, en het in 2024/25 14 785 kliënte bedien. Die bek-en-klouseer-uitbreking naby die Vrystaat/KwaZulu-Natalse grens word streng gemoniteer.

Sonder ’n amptelike siektebestuursverklaring van die minister, is wettige padblokkades nie moontlik nie, maar Rockman beklemtoon dat biosekuriteit en samewerking met die SAPD, gemeenskapsveiligheid en boereverenigings goed funksioneer.

Rampbestuur

Meer as 9 300 veldbrande het bykans 480 000 hektaar grond vernietig in 2024, met 13 sterftes en miljoene rande se skade.

Die Departement het saam met Destea en Cogta ’n gesamentlike evaluering gefasiliteer en sal in 2025/26 fokus op:

  • Organisering van bestaansboere in brandbeskermingsverenigings.
  • Opleiding en toerustingverspreiding in prioriteitsgebiede.
  • ’n Volledige veldbrandbestuursprogram.

“Ons brandseisoene word langer en onvoorspelbaar. Ons moet nou volhoubaar en slim beplan – met alle belanghebbendes,” het Rockman gesê.

Jeug, vroue, bemagtiging

Die CASP-program sal 136 gegradueerdes aanhou ondersteun. Daar sal opleiding vir 1,200 begunstigdes wees, en 20 projekte sal mentorskap ontvang.

Die NARYSEC-program het 66 jongmense gewerf wat opleiding ontvang in:

  • Geomatiese dienste
  • Kuberveiligheid
  • Hommeltuigvliegvaardighede
  • Vleisklassifikasie
  • Konstruksie en Handewerk

Die Da Vinci Instituut bied ook 15 voltydse opleidingsgeleenthede vir jong vroue in kunsmatige intelligensie in landbou, ’n baanbrekende stap vir tegnologie-integrasie in die sektor.

Voedselsekuriteit, armoedeverligting

Meer as 17 projekte en 27 instellings (insluitend skole, ouetehuise en sentrums vir gestremdes) is ondersteun in 2024/25.

AFASA, Eden-inisiatief en die Rooikruis is sleutelvennote in die oprigting van voedselprojekte, terwyl Meals on Wheels betrokke is by implementering van anker-voedselprojekte in al vyf distrikte.

Die Presidensiële Indiensnemingstimulusprogram sal 3 238 begunstigdes met landbou-insette ondersteun, en R37,25 miljoen is vir geïntegreerde voedsel- en voedingsinisiatiewe begroot.

In haar afsluiting het LUR Rockman lof uitgespreek teenoor belanghebbendes:

“Ons waardeer die konstruktiewe betrokkenheid van AFASA, NAFU, Vrystaat Landbou, WARD- en YARD-strukture, BRICS-jeug, VKB, OVK en SenWes. Hierdie vennootskappe lê die fondament vir inklusiewe groei, werkskepping en armoedeverligting.”

OFM Agri cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.