Agriculture
Grondkwessie steeds tameletjie vir transformasie─── 15:39 Sun, 13 Apr 2025

In sy repliek op die Vrystaatse Departement van Landbou se begrotingsrede, het dr. Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaatse Wetgewer, regeringswanbestuur, grondhervormingskwessies, en die toekoms van grondbesit in Suid-Afrika uitgelig.
Hy het sterk kritiek gelewer teen die ANC-regering se hantering van grondhervorming, spesifiek die Wet op Onteiening sonder Vergoeding wat onlangs aanvaar is. Hy waarsku dat dit die staat “onregverdige mag” gee oor eiendomsreg en ruimte skep vir korrupsie en misbruik.
“Ons sien telkens hoe produktiewe plase in staatsprojekte omskep word, wat vinnig in duie stort. Die sogenaamde begunstigdes beland dan in dieselfde werkloosheidslyn as die voormalige plaaswerkers wat eens op daardie plase gewerk het.”
Grondhervorming misluk, belastinggeld vermors
Sedert 1994 het die regering volgens hom 432 000 hektaar in die Vrystaat verkry teen ’n koste van byna R2 miljard, sonder dat dit op volhoubare voedselproduksie neergeslag het. Daarby besit munisipaliteite nog 203 onontwikkelde erwe, wat sowat 445 000 hektaar uitmaak.
“Elke besoek aan hierdie sogenaamde ‘projekte’ openbaar nog ’n mislukking. Hulle is grafte van belastingbetalers se geld en die begrafplaas van mense se drome.”
Jankielsohn het ernstige bekommernis uitgespreek oor die uitdagings wat Vrystaatse boere in die gesig staar, insluitend waterbesoedeling deur onbevoegde munisipaliteite, aanhoudende misdaad, swak paaie, en gebrekkige rampsteun tydens veldbrande.
“Ons boere word geteiken – deur misdadigers, deur beleid, en dikwels deur ’n vooroordeel in die kriminele regstelsel. Tog is dit húlle wat die land se voedselsekerheid dra,” het hy benadruk.
Voorstel vir regverdige, wettige grondbesit
Jankielsohn het ’n alternatief voorgestel vir die huidige grondhervormingsmodel deur te pleit vir wettige en veilige grondbesit deur individue in plaas van deur die staat.
Hy het verwys na ’n studie wat toon dat die staat nog 2,5 miljoen hektaar grond in Suid-Afrika besit, terwyl miljoene burgers in onwettige of onsekere grondtoestande leef. In die sogenaamde “ou tuislande” woon sowat 17 miljoen mense op 10,5 miljoen hektaar, maar sonder sekerheid van eiendomsreg.
“Ons is nie ’n kommunistiese samelewing nie. Nie alle grond moet aan die staat behoort nie. Die Grondwet sê dit ook nie – inteendeel, dit beskerm eiendomsreg.”
Hy het ’n sespunt-plan voorgestel om grondbesit en eiendomsreg te versterk:
- ’n Behoorlike grondregister moet opgestel word deur alle grond in kommunale gebiede op te meet en die grense tussen eiendomme te verstaan ter wille van verbeterde verblyfsekerheid.
- Persoonlike titelaktes vir grondbesitters wat dit wil hê – met die opsie vir kollektiewe grondbesit vir dié wat dit verkies.
- Insluiting van gemeenskapsgebruikregte (soos toegang tot water of weiding) in titelaktes.
- Koppeling van grondregistrasie met infrastruktuurontwikkeling – paaie, water, finansiering en opleiding.
- Respek vir tradisionele gemeenskapslewe sonder dat tradisionele leiers absolute beheer oor grond kry.
- Vasstelling van minimumgrondwaardes om begunstigdes teen roofkopers te beskerm.
Hy verwys na artikel 25 van die Grondwet wat nie vereis dat die staat almal grond moet gee nie, maar dat die staat “toestande moet skep vir regverdige toegang tot grond”.
Jankielsohn het met ’n beroep tot eenheid afgesluit, en gevra dat grondeise en historiese onregte op ’n wyse en oplossingsgerigte manier benader word. “As ons grond in die konteks van ons geskiedenis én ons huidige ekonomiese werklikhede hanteer, kan dit ’n bron van ontwikkeling, eenheid en voedselsekerheid wees – nie ’n wapen vir verdeling nie.”
Boere leef tussen misdaad en wanorde
Armand Cloete, VF Plus-LPW, het op sy beurt ’n somber prentjie van die werklikheid op plase in die provinsie geskets, met ernstige bekommernisse oor plaasveiligheid, grensbeheer, grondbesit en ekonomiese wanbalans in internasionale handel. Cloete het die regering daarvan beskuldig dat hulle “met oop oë” toelaat dat die landbousektor agteruitgaan.
Cloete het gesê dat hy onlangs deur die provinsie getoer het en beïndruk was met die groenerige velde ná die reën, maar het gevra: “Is ons boere tevrede? Ons boere is soggens voor sonop op, en gaan saans moeg en gesweet slaap. Hulle werk nie vir eer of erkenning nie, maar vir kos op ons tafels. Tog word hulle deur die natuur én deur die staat geteister – veral deur die groeiende krisis van veediefstal en georganiseerde sindikate.”
Volgens Cloete is daar meer as 449 polisievoertuie buite werking in die provinsie omdat herstelwerk en inspeksies vertraag word. Dit terwyl georganiseerde landbou net 104 voertuie vra om landelike veiligheid volgens die Nasionale Landelike Beveiligingstrategie te versterk.
Misbruik deur begunstigdes
Cloete het ook sommige begunstigdes van regeringsgrond daarvan beskuldig dat hul plase naby die grens aan Lesotho-boere verhuur, wat dan Vrystaatse weiding gebruik, terwyl plaaslike boere beperk word. “Ons gee grond aan mense onder die vaandel van hervorming, en hulle verhuur dit uit terwyl plaaslike produsente stry om toegang en ondersteuning.”
Die nuutgetekende Onteieningswet, wat voorsiening maak vir onteiening sonder vergoeding, het Cloete as ’n direkte bedreiging vir eiendomsreg en ekonomiese stabiliteit beskryf. “Die regering beskou grondbesitters as sondaars – hulle maak van eiendom ’n vyand en van die staat die enigste regmatige eienaar. Ons is nie teen transformasie nie, maar teen vernietiging. Ons soek regverdigheid, nie ideologie nie.”
Onteiening is nie wraak nie, maar herstel
Rockman het gereageer op kritiek teen die nuwe Onteieningswet en benadruk dat dit nie oor “willekeurige grondgryp” gaan nie. Sy het verwys na die woorde van Chris Hani, wat die ou tuislande vergelyk het met Amerikaanse Indianereservate – “ ’n berekende strategie om inheemse gemeenskappe te marginaliseer en te verarm”.
“As ’n mens die geskiedenis internaliseer, verstaan jy waarom onteiening sonder vergoeding ’n belangrike instrument in grondhervorming is – nie om straf toe te dien nie, maar om menswaardigheid te herstel.”
Sy het beklemtoon dat die wet duidelike voorwaardes bevat vir wanneer onteiening sonder vergoeding mag plaasvind, en dat dit nie ’n vrypas vir wanorde is nie.
Rockman het sterk gefokus op die behoefte aan toegang tot grond, veral vir die jeug. Sy het erken dat meentgronde tans oorvol, swak bestuur en oorbewei is. “Baie van die mense op die gemeenskapsgrond behoort reeds kommersiële boere te wees, maar hulle het nie toegang tot hul eie grond nie. Intussen stuit dit jong mense se toetrede tot landbou, en veroorsaak dit intergenerasionele spanning.”
Sy het aangekondig dat die suksesvolle Jeug-in-Landbou-beraad nou gevolg gaan word met ’n Vroue-in-Landbou-dialoog, met die doel om strukturele toegang en deelname vir vroue in die sektor te verbeter.
Nuwe kriteria vir projekgoedkeuring
Rockman het erken dat talle projekte in die verlede misluk het en het aangedui dat daar ingrypende veranderinge aan die aansoek- en goedkeuringsprosesse gedoen is. “Te veel projekte was nie operasioneel nie of het vinnig in nood beland. Ons het nou ’n meer wetenskaplike proses – elke projek vereis nou ’n plaasplan, waterbron-ontwikkeling, duidelike besigheidsplan, en veral bewys van grondbeskikbaarheid.”
Sy het gewaarsku dat ook amptenare in die departement wat nie by die nuwe kultuur van verantwoordbaarheid inpas nie, “van die bus gaan afval”.
“Ons verwag dieselfde vlak van aanspreeklikheid van begunstigdes as wat van ons verwag word met openbare fondse.”
OFM Agri cg