On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Vrystaat Landbou spog met 5 Jongboer-finaliste

───   05:00 Tue, 15 Apr 2025

Vrystaat Landbou spog met 5 Jongboer-finaliste | News Article
Vrystaat Landbou Jongboer-konferensie in Bloemfontein. Foto: Vrystaat Landbou

Ondanks die droogte en moeilike landboutoestande wat die Vrystaat teister, spog die provinsie vanjaar met vyf finaliste in die Vrystaat Landbou jongboer van die jaar kompetisie.

Die organisasie het Donderdag (10/4) sy 2025 finaliste tydens die Jongboer-konferensie in Bloemfontein bekendgestel. 

Die beoordeling van kandidate het reeds op 26 en 27 Februarie plaasgevind, toe die beoordelingspaneel, bestaande uit verskeie kundiges, elke kandidaat op sy plaas besoek het.

Die finaliste is:

  • DJ Meades van Petrusburg;
  • Junior Ferreira van Bethlehem;
  • JW Dercksen en Morné Kleynhans, albei van Hertzogville; en
  • Tienie Prinsloo van Hoopstad.

DJ Meades (33) boer reeds die afgelope twaalf jaar op hul plaas in die distrik Petrusburg. Hy is ’n groenteboer en vertel trots van sy groeiende pekanneut kwekery wat hy self gevestig het.

DJ glo daarin om geleenthede aan te gryp waar hy werknemers kan oplei, aangesien dit op die lang duur ook sy boerdery bevoordeel. DJ is lid van die Perdeberg-boerevereniging en is ook betrokke by plaaslike veiligheid deur gereeld aan patrollies deel te neem en te help met die instandhouding van paaie.

Junior Ferreira (34) boer die afgelope 14 jaar in die distrik Bethlehem. Hy het nege jaar saam met sy pa geboer. Ná sy pa se afsterwe het hy die grond geërf en boer nou reeds vyf jaar alleen.

Hy streef daarna om meer bewaring- sowel as regeneratiewe boerderypraktyke op sy plaas toe te pas. Sy langtermynvisie is om meer omgewings vriendelik te boer, nader aan die natuur, om sodoende beter grond agter te laat vir die volgende generasie.

Junior is reeds 12 jaar lid van Sonop-boerevereniging, lid van Graan SA en dien ook die afgelope jaar as voorsitter van Bethlehem se veediefstal-inligtingsentrum.

JW Dercksen (28) van die distrik Hertzogville boer die afgelope vier jaar saam met sy pa, nadat hy ’n paar jaar in Amerika gewerk het. JW meen dit is belangrik om uit foute te leer wat gemaak is en om nie agter te raak wat moderne praktyke betref nie. 

Sy langtermynvisie vir die familieboerdery is om maksimumopbrengs op die minimumhektare te behaal. Hy is trots op die implemente wat self op die plaas gebou en herstel word, aangesien dit nie geld nie maar ook tyd spaar. 

JW skroom nie om hand by te sit waar dit nodig is nie. Hy is lid van Agri Hertzogville, die buurtwagpatrollie en ook die brandvereniging in die omgewing.

Morné Kleynhans (28) boer ook die afgelope vier jaar voltyds saam met sy pa in die distrik Hertzogville. Hy is hoofsaaklik verantwoordelik vir die tegnologiese deel van hul presisieboerdery en meen dat die toevoeging van tegnologie beslis potensiaal ontsluit het met die kontrolering van bewerking. 

Hy skroom egter nie om ook raad te vra van ouer boere nie, want “daar is wysheid in die grysheid”. Dit is vir hom belangrik om ‘n goeie nalatenskap te los.

Morné is betrokke in sy gemeenskap deur sy lidmaatskap by Agri Hertzogville. Hy is ook deel van die brandvereniging en plaasveiligheid in die omgewing.

Tienie Prinsloo (36) boer reeds 15 jaar in die distrik Hoopstad en dien saam met sy pa as direkteur in die maatskappy. Sy pekanneutboorde is sy trots. 

Hy het in 2023 8 600 pekanneutbome geplant en in 2024 nog 7 500 bome. Hy vertel ook trots van die Beefmaster-stoet en suikerbone wat hy tot die boerdery toegevoeg het.

Tienie is passievol daaroor om ’n verskil in sy gemeenskap te maak. Hy is tans voorsitter van Hoopstad Landbougenootskap, lid van Graan SA en is ’n direkteur van Hoopstad Sport Academy.

Hoop vir landboutoekoms

Prof. Pieter Fourie, sameroeper van die provinsiale beoordelingspaneel, meen die jong boere se passie, trots en entoesiasme is aansteeklik. “Die jong boere maak ’n mens hoopvol en opgewonde oor die toekoms van landbou in Suid-Afrika!”

Die wenner van Vrystaat Landbou se jongboer van die jaar 2025  word op 6 Augustus aangekondig en dring outomaties deur na die nasionale AgriSA/ToyotaSA-kompetisie wat later vanjaar plaasvind.

OFM Agri/Johan Gunter mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.