On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Beter strukture nodig om veediefstal te beveg

───   ELZETTE BOUCHER 05:00 Tue, 25 Mar 2025

Beter strukture nodig om veediefstal te beveg | News Article
Afgevaardigdes by die spesiale sessie oor veediefstal in die Vrystaat. Foto: SAPD Facebook

Planne om veediefstal te bekamp kan nie ‘net op papier’ bestaan nie, maar moet prakties haalbaar en volhoubaar wees.

Só het Senzo Mchunu, die minister van polisie, op verskeie rolspelers in die veebedryf se bydraes tydens ’n werksessie in Bloemfontein gereageer. Verskeie rolspelers in die veebedryf het kommer uitgespreek oor polisielede se beweerde betrokkenheid by veediefstalsindikate asook ’n algemene wantroue in die polisie se vermoë om veediefstal te bekamp.

James Faber, voorsitter van die Rooivleisprodusenteorganisasie, het gevra vir meer sigbare polisiëring en gereelde padblokkades om onwettige smokkel van vee te keer. Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van Vrystaat Landbou, het beklemtoon meer landelike veiligheidskoördineerders met voldoende voertuie en opleiding is van kardinale belang tesame met meer speurders by veediefstaleenhede.

Strukture vir aanspreeklikheid

Mchunu het daarop gewys dat daar tans geen konsekwente meganisme is waar alle betrokke rolspelers gereeld verantwoordelikheid neem en verslag doen oor vordering in die stryd teen veediefstal nie. Hy het gevra vir ’n struktuur wat werklik operasioneel funksioneer en gereelde verslagdoening moontlik maak.

“Ons kan nie net bymekaarkom wanneer daar ernstige insidente is nie. Ons moet ’n volhoubare stelsel hê waar gereelde verslagdoening plaasvind en verantwoordbaarheid ’n deurlopende prioriteit bly.”

Hy het voorgestel hierdie vergaderings word kwartaalliks op nasionale vlak gehou, waar regeringsamptenare, landbougemeenskappe en wetstoepassers saamkom om oplossings te bespreek en implementering te monitor.

Misdaadbestryding moet prakties wees

Mchunu het gesê hy stel nie belang in planne wat net op papier bestaan nie, maar eerder in praktiese en operasionele oplossings. Hy het ’n duidelike verdeling van verantwoordelikhede tussen die polisie en ander rolspelers in die veesektor versoek.

Verder het hy vir verbeterde aantekening van hierdie tipe misdaad gevra en daarop gewys dat veediefstal nie net binne die grense van plase plaasvind nie, maar dikwels op gemeenskaplike grond net buite plaasheinings. Daarom moet misdaadstatistieke hierdie areas insluit sodat die volle omvang van die probleem verstaan en aangespreek kan word.

Hooggeplaasdes neem notas by die sessie oor veediefstal. Foto: Facebook/SAPD

Gemeenskappe moet veilig voel

Die minister het ook beklemtoon misdaadbekamping kan nie net oor statistieke of openbare aankondigings gaan nie, maar oor die werklike gevoel van veiligheid binne gemeenskappe.  “Dit help nie ons sê net gemeenskappe is veilig nie. Hulle moet dit werklik voel. Dit beteken ons moet strukture hê wat effektief werk, en misdaad moet daadwerklik bekamp word.”

Hy het gewaarsku dat veediewe goed georganiseer en bewapen is en dat wetstoepassing nie net gelyk moet staan aan hierdie bedreiging nie, maar dit moet oortref.

Samesmelting van strukture en samewerking

Mchunu het voorgestel dat ’n tweevlak-struktuur oorweeg moet word – een wat fokus op operasionele en tegniese misdaadbekamping en ’n ander een wat as oorhoofse verslagdoeningsorgaan dien. Hy het versoek die regering, plaaslike gemeenskappe en besighede moet saamwerk om hierdie tipe strukture te ontwikkel en verfyn.

“Ons is nie behoorlik gestruktureer om hierdie misdaad doeltreffend te hanteer nie. Ons moet dit regstel. Dit is tyd dat mense aanspreeklik gehou word en dat ons werklik misdaad bekamp, nie net daaroor praat nie.”

Die minister het afgesluit deur te sê die regering sal hierdie kwessies dringend hersien en hersienings van die bestaande misdaadbestrydingstrukture sal oorweeg om veediefstal en ander vorme van landelike misdaad meer doeltreffend te bekamp.

OFM Agri cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.