On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Junior kokke kry kans om te skitter in Noord-Kaapse kompetisie

───   ELZETTE BOUCHER 07:00 Tue, 25 Mar 2025

Junior kokke kry kans om te skitter in Noord-Kaapse kompetisie | News Article
Foto: Getty Images

Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in die Noord-Kaap het ’n opwindende inisiatief van stapel gestuur om jong talentvolle kokke die kans te gee om hul kookvernuf ten toon te stel.

Die Junior Kok van die Jaar-kompetisie, in samewerking met Butler’s Hotelskool en Jonsson Workwear, is oop vir leerders tussen 13 en 17 jaar oud. Inskrywings is reeds aan die gang en sluit op 31 Maart 2025.

Volgens Yolandé Botha van die RPO is die doel van die kompetisie om jongmense meer betrokke te kry by die voorbereiding van disse, veral dié wat rooivleis insluit. “In ’n wêreld waar kitskos en poeierdrankies gewild is, wil ons die belangrikheid van rooivleis as ’n voedsame proteïenbron beklemtoon.”

Pryse en inskrywingsproses

Die kompetisie bied fantastiese pryse vir deelnemers. Jonsson Workwear borg volledige sjefuniforms vir die deelnemers, terwyl messtelle, kontantpryse en afslag op sekere kookkursusse ook op die spel is. Die semi-finale sal op 5 Mei 2025 in Kimberley plaasvind, waar deelnemers die geleentheid kry om hul kookvernuf aan ’n beoordelaarspaneel ten toon te stel.

Om in te skryf, kan leerders die RPO Noord-Kaap se webwerf besoek en ’n QR-kode skandeer om die nodige dokumentasie in te dien. Deelnemers moet foto’s oplaai van hul bestanddele, die kookproses en hul finale dis. Indien internettoegang ’n uitdaging is, kan inskrywings ook per WhatsApp gestuur word.


Finale ronde tydens Junie vleisfees

Die vier finaliste sal op 13 Junie 2025 tydens die Vleisfees by die Mittah Seperepere Internasionale Konferensiesentrum in Kimberley aan die laaste kookronde deelneem. Op hierdie dag sal hulle voor ’n gehoor ’n dis voorberei uit ’n “mystery box”. Die Vleisfees beloof om ’n hoogtepunt op die kalender te wees, met verskeie inligtingsessies, loopbaanvoorligting vir jongmense, kompetisies en ’n musiekkonsert.

Botha nooi alle belangstellende jong kokke uit om aan hierdie unieke kompetisie deel te neem en hul kooktalent te ontwikkel. “Dit is ’n wonderlike geleentheid vir jongmense om nie net hul kookvaardighede te slyp nie, maar ook om meer te leer oor die belangrikheid van rooivleis in ’n gesonde dieet.”

Vir meer inligting en inskrywingsbesonderhede, besoek www.rponk.co.za of kontak die RPO Noord-Kaap se kantore direk by 053 832 9595.

OFM Agri cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.