Agriculture
Vrystaat Kommandowurms: Departementele hulp aangebied─── 16:24 Tue, 25 Mar 2025

Die departement van landbou, landelike ontwikkeling en omgewingsake het bevestig daar is ’n uitbreking van kommandowurms in die Vrystaat.
Hierdie wurms beweeg in digte swerms oor groot gebiede gras, weiding en klein mielie- en sorghumlande, en rig ernstige skade aan.
31 gevalle reeds aangemeld
Die afgelope twee dae is 31 gevalle van besmetting in Letsemeng-munisipaliteit aangemeld, spesifiek op Jacobsdal, Luckhoff, Koffiefontein, Petrusburg, Perdeberg en Emmaus. Daar is verdere kommer dat die plaag besig is om na Boshof in Tokologo-munisipaliteit te versprei.
Die oorsaak van die uitbreking is nog onbekend.
Boere en vee-eienaars moet optree
Vee-eienaars word dringend versoek om hul diere uit die besmette weidings te verwyder sodra kommandowurms opgemerk word en om onmiddellik die staatsveearts of plaaslike dieregesondheidstegnikus in te lig.
Die departement se veeartsenydienste beveel aan dat boere die aanwysings op plaagdoderverpakking sorgvuldig lees, aangesien dit riglyne verskaf oor hoe lank diere weggeneem moet word nadat ’n gebied gespuit is.
Ondersteuning en opleidingsessies
Die departement sal hulp bied in die vorm van plaagdoders en spuitapparaat om boere te help om die besmette areas te behandel. Daarbenewens sal ’n inligtingsessie en opleiding vir amptenare en boere plaasvind op Woensdag 26 Maart om 10:00 op Petrusburg en om 13:30 op Jacobsdal.
Kontakbesonderhede vir verdere navrae:
- Xhariep-distrik: Shadrack Cezula – 081 038 6504
- Lejweleputswa-distrik: Thabiso Letsoara – 066 220 1167