Agriculture
NWK ysters sweet vir goeie doel – en jy kan help om verskil te maak─── ELZETTE BOUCHER 07:00 Mon, 24 Mar 2025

NWK, Suid-Afrika se oudste landboumaatskappy, het ’n unieke fondsinsamelingsprojek van stapel gestuur om geld in te samel vir die bevordering van landelike veiligheid en om bewustheid oor misdaad in landelike gebiede te verhoog.
Met hul betrokkenheid by die bekende Ysterman-uitdaging wat in November in Mosselbaai plaasvind, hoop die NWK-span om met die besigheidsektor en publiek se hulp R1-miljoen ten bate van Agri Securitas in te samel.
Alf White, finansiële hoof van NWK, verduidelik hierdie inisiatief vorm deel van die maatskappy se breër strategie om nie net die persoonlike welstand van hul personeel te verbeter nie, maar ook ’n kultuur van gemeenskapsbetrokkenheid te kweek.
“Ons wil ’n verskil maak in die gemeenskappe waarin ons bedrywig is. Die Ysterman-uitdaging bied ’n wonderlike geleentheid vir spanbou, gesondheid en om ’n positiewe bydrae tot landelike veiligheid te lewer.”
Hoe werk die uitdaging?
Om die teiken te bereik, het deelnemers aan die Ysterman-uitdaging, wat op 18 November 2025 in Mosselbaai plaasvind, elkeen ’n persoonlike fondsinsamelingsdoelwit en sal ondersteun word deur hul eie netwerke en gemeenskappe.
Die uitdaging self bestaan uit drie afdelings: ’n 1.9 km swem, ’n 90 km fietsry, en ’n 21 km hardloop. Die afsnytyd is 8 uur en 30 minute. Deelnemers kan as individue meeding of as ’n aflosspan van twee of drie persone. “Dis ’n bereikbare doelwit, selfs vir iemand wat nog nooit hierdie afstande gedoen het nie. Ons hoop om minstens twintig aflosspanne en tien individuele deelnemers te werf.”
Deur R1 miljoen in bydraes van R1 000 op te deel, benodig NWK duisend mense om elkeen R1 000 te skenk. As elkeen van daardie mense tien ander inspireer om R100 te gee, word 10 000 mense betrek. Verder, as elke persoon vyf ander beïnvloed (familie of vriende), kan die boodskap oor landelike veiligheid 50 000 mense bereik en groter betrokkenheid by landbou skep.
Waarom Agri Securitas?
Misdaad en die invloed daarvan op landelike gemeenskappe bly ’n ernstige bekommernis in Suid-Afrika. White sê misdaad lei dikwels daartoe dat gemeenskappe en produsente onttrek uit vrees en onsekerheid. Agri Securitas, wat in 1998 met die steun van oudpres. Nelson Mandela gestig is, speel ’n sleutelrol in die beveiliging van plattelandse gemeenskappe deur finansiële ondersteuning te bied vir veiligheidsinisiatiewe.
“Die geld wat ingesamel word, sal direk aangewend word om landelike gemeenskappe te help beveilig. Dit is belangrik vir die volhoubaarheid van landbou en voedselproduksie.”
Hoe kan ondernemings en individue betrokke raak?
Besighede en individue wat belangstel om betrokke te raak, kan NWK kontak via e-pos by nwk@nwk.co.za. Daar is verskeie maniere om te help, insluitend borgskappe vir inskrywings, direkte donasies, en deelname aan die uitdaging.
Daarbenewens is Agri Securitas geregistreer as ’n art. 18A-instelling wat beteken dat ondernemings wat skenkings maak, belastingaftrekkings kan eis.
Die inskrywings vir die Ysterman-uitdaging is beperk en belangstellendes word aangemoedig om so gou moontlik in te skryf.
OFM Agri dg