On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Spesiale fokus: Mikroskopiese wêreld van aalwurms

───   06:00 Mon, 24 Mar 2025

Spesiale fokus: Mikroskopiese wêreld van aalwurms | News Article
Nematode navorsers aan die Universiteit van die Vrystaat: dr. Candice Jansen van Rensburg, dr. Milad Rashidifard en Anke de Smidt. Foto: OFM

OFM Agri belig vandeesweek die mikroskopiese wêreld van aalwurms. Anke de Smidt, ’n PhD-student aan die departement dierkunde en entomologie aan die Universiteit van die Vrystaat, verduidelik in die eerste episode meer oor hierdie organismes.

Wat is aalwurms?

Aalwurms is een van die mees algemene lewende organismes op aarde, maar omdat hulle mikroskopies klein is, bly hulle dikwels onsigbaar vir die blote oog. Hulle speel egter ’n groot rol in die natuur en landbou en hoewel sommige skadelik is, is die meeste aalwurms eintlik baie nuttig.

Dit is ook bekend as rondewurms en hierdie organismes kom voor in water, grond en selfs binne-in ander lewende wesens. Volgens die wetenskaplike Nathan Augustus Cobb is aalwurms só volop dat indien alles op aarde verdwyn behalwe hulle, mens steeds die vorms van berge, riviere en oseane sou kon raaksien net deur die patroon van aalwurms wat daar woon. Hierdie verstommende stelling beklemtoon net hoe belangrik en wydverspreid hulle is.

In Suid-Afrika is aalwurms selfs diep ondergronds gevind, tot 3,6 km onder in goudmyne – ’n ontdekking wat bewys dat selfs in die mees ekstreme omgewings lewe steeds kan floreer.

Waarom is aalwurms belangrik?

Aalwurms speel ’n sentrale rol in die ekostelsel en in ons alledaagse lewe. Terwyl sommige probleme kan veroorsaak, lewer die meerderheid van hulle 'n positiewe bydrae.

Skadelike aalwurms:

  • Sommige aalwurms val plantwortels aan en veroorsaak siektes wat groot probleme in landbou meebring.
  • Bepaalde aalwurms kan mense en diere besmet – soos ons ouers al gewaarsku het: “Moenie met sand speel nie, anders kry jy wurms!”
  • Siektes soos olifantsiekte wat swelling in die liggaam veroorsaak, en rivierblindheid, wat die oë aantas, word deur spesifieke aalwurms veroorsaak.

Nuttige aalwurms:

  • Baie aalwurms help egter om grondvrugbaarheid te verbeter deur dooie organiese materiaal af te breek.
  • Ander dien as natuurlike plaagdoders deur skadelike insekte op te eet en sodoende boere te help om hulle oeste te beskerm sonder die gebruik van chemikalieë.
  • Wetenskaplikes gebruik aalwurms as ’n aanduiding van grond- en watergesondheid – ’n gesonde aalwurmbevolking dui op vrugbare en lewenskragtige grond.

Is alle aalwurms sleg?

Beslis nie! Hoewel sekere aalwurms skade aan plante en mense kan berokken, speel die meeste ’n noodsaaklike rol in die omgewing. Van die aalwurms wat in die grond leef, is net sowat 15% skadelik vir plante, terwyl die res ’n positiewe impak het. Hierdie “goeie” aalwurms:

  • Help om plante gesond te hou deur grond te verryk met voedingstowwe.
  • Dien as ’n natuurlike vorm van plaagbeheer deur skadelike insekte te eet.
  • Word gebruik in navorsing om grondgesondheid te monitor en te verbeter.

In Suid-Afrika word navorsing gedoen oor hoe hierdie voordelige aalwurms kommersieel gebruik kan word as ’n natuurlike alternatief vir chemiese plaagdoders – ’n belowende stap vir volhoubare landbou.

’n Aalwurm onder die mikroskoop. Foto: Bob Goldstein, UNC Chapel Hill

Waar kan meer geleer word oor aalwurms?

Indien jy meer oor hierdie fassinerende mikroskopiese organismes wil leer, kan jy die webwerf van die Nematologiese Vereniging van Suider-Afrika besoek. Ander nuttige hulpbronne sluit in Nemaplex (Universiteit van Kalifornië) en Wageningen Universiteit se webblad.

Daarbenewens bied verskeie Suid-Afrikaanse universiteite kursusse oor aalwurms en hul ekologiese belangrikheid aan, insluitend die Universiteit van die Vrystaat, Noordwes-Universiteit, Universiteit Stellenbosch, Universiteit van Mpumalanga en die Universiteit van Limpopo. Vir enigiemand wat belangstel in biologie en ekologie, is aalwurms ’n wonderlike en steeds ontdekkende veld van studie.

OFM Agri dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.