On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

AMT-ontleding: Gemengde bewegings op graan-, vleismarkte

───   07:49 Wed, 26 Feb 2025

AMT-ontleding: Gemengde bewegings op graan-, vleismarkte | News Article
Foto: Getty Images

Op die Safex-markte toon die jongste data gemengde bewegings in graanpryse.

Mieliepryse

Witmieliepryse het gestyg terwyl die prys van geelmielies gedaal het. Volgens AMT-ontleder, dr. Johnny van der Merwe, het die witmielie-spotprys gestyg na R5 745 per t, terwyl die Julie 2025-kontrak laer verhandel teen R4 405 per t. 

Geelmielies het daarenteen gedaal na R4 795 per t, met die Julie 2025-prys ook laer op R4 185 per t.

Sojabone en sonneblomme toon dalings

Die sojaboon-spotprys het afgeneem na R8 590 per t, maar die Mei 2025-kontrak het gestyg na R7 932 per t. Sonneblomme se spotprys het ook gedaal na R9 030 per t, met die Mei 2025-prys op R8 838 per t.

Koringpryse toon gemengde bewegings; die spotprys het gedaal na R5 971 per t, terwyl die Desember 2025-kontrak nou op R6 086 per t verhandel.

Internasionale invloede op graanmarkte

Internasionaal word verwag dat mielie-aanplantings in die VSA met 4% kan styg, terwyl sojaboon-aanplantings met 3,6% kan daal. Brasilië se rekord-sojaboonoes verbeter die winsgewendheid van mielies in vergelyking met sojabone, wat verdere druk op internasionale pryse kan plaas.

Plaaslik dui verwagtinge aan dat Zambië se mielie-oes tussen 3,5 en 4 miljoen t kan beloop, wat moontlik uitvoere na die res van Afrika kan beperk en dus plaaslike pryse kan druk.

Vleispryse toon wisselvalligheid

Die nasionale gemiddelde speenkalfprys het effens gestyg na R34,22 per kg, met direkte verkope wat afgeneem het na R34,98 per kg. Ligter kalwers verhandel tans teen R34,02 per kg, terwyl swaarder kalwers op R33,25 staan. 

In die Vrystaat bly die speenkalfprys steeds bo R34 per kg.

Slagpryse vir beesvleis toon ’n afwaartse neiging, met die A2/3-karkasprys op R55,36 per kg en die C-graad op R47,03. Daar word verwag dat hierdie pryse laer kan bly tot die einde van Februarie, met moontlike styging tussen Maart en Mei.

Skaap- en varkpryse onder loep

In die skaapbedryf het die gemiddelde stoorlamprys met 4,5% gedaal na R39,28 per kg, terwyl die slaglamprys gestyg het na R41,58. Die skaarsheid van slaglammers, veral in die Wes-Kaap, hou pryse hoog met slagpryse wat wissel tussen R107 en R112 per kg.

Varkpryse bly onder druk, met die spekvarkprys 0,5% laer op R32,09 per kg en die vleisvarkprys wat met amper 1% gedaal het na R32,50. Produsente verwag egter dat die vraag na varkvleis pryse oor die komende maande kan ondersteun.

Wol- en ander kommoditeitspryse

Die RWS-skoonwolprys het gestyg na R176,68 per kg, terwyl die nie-RWS-prys op R172,53 staan. In Australië het wolpryse met 1% gedaal na 11,84 Australiese dollar per kg weens laer vraag en kwaliteitsprobleme.

Die gevriesde hoendervleisprys bly stabiel op R33,39 per kg, terwyl varshoenderpryse effens gedaal het na R35,35 per kg. Vark- en bokpryse toon gemengde bewegings, met groot bokke hoër op R46,51 en klein bokke laer op R42,25 per kg.

Vooruitsigte

Daar is ’n verwagting dat speenkalfpryse kan stabiliseer tussen R32 en R33 per kg tot Mei, met moontlike verdere druk tydens die hoër aanbodperiode in Mei. Slaglampryse kan verder styg tot middel Julie, alhoewel die R50-kerf moontlik moeilik bereik sal word.

Markkenners hou die komende oesskattingsverslag dop, wat Donderdag (27/2) vrygestel word en wat verdere rigting aan pryse kan gee vir die volgende drie tot vier maande.

OFM Agri mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.