On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

AgriSA pleit by B20 om volhoubare landboubelegging

───   15:48 Mon, 24 Feb 2025

AgriSA pleit by B20 om volhoubare landboubelegging | News Article
AgriSA president Jaco Minnaar. Foto: Silver Dune Photography

AgriSA speel vanjaar ’n aktiewe rol tydens die B20 Suid-Afrika-beraad wat op 24 en 25 Februarie in Kaapstad plaasvind.

Die organisasie se president, Jaco Minnaar, en uitvoerende hoof, Johann Kotzé, woon die geleentheid by om belangrike beleidskwessies rakende volhoubare landbou, wêreldhandel en beleggingsvertroue te bespreek. 

Die B20-beraad, wat saamval met Suid-Afrika se voorsitterskap van die G20, bring sakeleiers, beleidmakers en kundiges bymekaar om strategieë te ontwikkel wat die ekonomiese toekoms van die land en breër streke vorm. Vir AgriSA bied die platform ’n waardevolle geleentheid om te pleit vir beleide wat landbouvolhoubaarheid en voedselveiligheid bevorder.

“Dit is belangrik om met sleutelbelanghebbendes by die B20-bekendstelling in gesprek te tree, aangesien landbou ’n deurslaggewende dryfveer van volhoubare groei en belegging is,” sê Kotzé. Hy vertel die organisasie se fokus op drie kritieke areas:

Volhoubare handelspraktyke

Volgens Kotzé verteenwoordig landbouhandel tussen Suid-Afrika en die G20 ongeveer 55% van die land se landbou-uitvoere, met ’n waarde van sowat R134 miljard. Hy benadruk die noodsaaklikheid om klimaatsaanpassing, netto-nul-oorgangsplanne en volhoubaarheidsvereistes in handelsbepalings te integreer sonder om die Afrika-voedselstelsel in gevaar te stel.

“Suid-Afrikaanse boere is reeds verbind tot omgewingsverantwoordelike boerdery en voldoen aan verskeie volhoubaarheidstandaarde oor verskeie waardekettings. Ons moet hierdie meganismes gebruik om ons pogings te versterk en ons vordering te demonstreer.”

Verbeterde marktoegang

Kotzé beklemtoon die belangrikheid van globale marktoegang vir voedselstelselvolhoubaarheid en werkskepping in landelike gebiede. Hy noem ook die behoefte om nietariefhindernisse aan te spreek en die rol van protokolle in die bestuur van dieregesondheidsuitdagings te erken.

Beleggingsvertroue

“Die B20-platform bied ’n unieke geleentheid om beleggings te lok en groeivooruitsigte te skep wat aansienlik tot Suid-Afrika se ekonomiese ontwikkeling kan bydra.”

AgriSA beskou sy deelname aan die B20-beraad as ’n noodsaaklike stap om die belange van die landbousektor te bevorder en om volhoubare ekonomiese groei te ondersteun. Die organisasie bly verbind tot dialoog en samewerking met plaaslike en internasionale belanghebbendes om ’n sterker en meer veerkragtige landbousektor te bou.

OFM Agri mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.