Agriculture
Volgende seisoen van vernuwing breek aan by Senwes─── ELZETTE BOUCHER 05:00 Thu, 20 Feb 2025

“Senwes se gefokusde strategie het hom gebring waar hy vandag is en ek gaan voortbou daarop,” vertel Debbie Bester, die groep se nuwe HUB, vanuit hul hoofkantoor in Klerksdorp.
OFM Agri het met Bester en uittredende HUB Francois Strydom gesels om meer oor Senwes se toekomsplanne te hoor.
’n Paar oë in die landboukringe het waarskynlik gerek met die aangekondig dat ’n 39-jarige vrou die leisels van een van Suid-Afrika se grootste landboumaatskappye oorneem. Tog verskil Bester se reis na die raadsaal nie veel van ander hoof- uitvoerende beamptes by soortgelyke organisasies nie.
Met harde werk en deursettingsvermoë het sy die hoogste sport bereik. Soos baie ander syferslimkoppe met jare lojale diens en gerigte leierskapsontwikkeling, pak sy dié uitdaging trompop om ’n nuwe era vir landbou-ondernemings in te lui.
“Die direksie het ’n eenparige besluit oor haar aanstelling geneem ná ’n uitgebreide onafhanklike opvolg- en werwingsproses wat oor meer as sewe maande gestrek het,” vertel Danie Minnaar, Senwes-voorsitter, in reaksie op haar aanstelling.
Bester bring ’n rykdom aan ervaring na die pos, met ’n loopbaan wat oor twee dekades strek en diep gewortel is in finansiële bestuur en landboukorporasies. Gebore en getoë in die Vrystaat, het sy in 2004 gematrikuleer en direk daarna by PWC begin werk.
Pad tot hier
Sy het deeltyds studeer, terwyl sy nege jaar by die maatskappy deurgebring het. In 2013 het sy by Suidwes Landbou aangesluit, waar sy verskeie finansiële rolle vervul het.
Met die samesmelting van Senwes en Suidwes in 2020 het Bester by die Senwes-groep aangesluit en het sy as finansiële direkteur van Hinterland gedien. Later het sy oorgeskakel na Senwes se gesentraliseerde funksies, waar sy die hoof van groepfinansies en korporatiewe finansies geword het.
Sy het ook vir ses maande as waarnemende hoof- finansiële beampte van die groep waargeneem voordat sy bevorder is tot uitvoerende bestuurder van korporatiewe finansies.
Leierskapsfilosofie, toekomsvisie en volhoubaarheid
Bester meen sterk leierskap berus op twee fundamentele waardes: duidelike en deursigtige kommunikasie, en die bemagtiging en vertroue in ’n span. “As jy daai twee in plek het, dan kry jy net die beste resultate.” Sy beoog om ’n korporatiewe kultuur te bou waar werknemers gewaardeerd en gemotiveerd voel.
Senwes het oor die jare ’n reputasie opgebou vir vooruitdenkende strategieë en innovasie. Bester sien dit as ’n belangrike deel van die maatskappy se toekoms: “Ons dink altyd hoe kan ons die toekoms herontwerp om ’n ander uitslag te kry.”
Sy sê Senwes bly nie net by die tradisionele manier van doen nie, maar soek voortdurend na nuwe, slimmer oplossings om ’n mededingende voordeel in die bedryf te behou.
Senwes se strategiese rigting
Tegnologie en veerkragtigheid sal kernaspekte van Senwes se toekoms wees. Hierdie strategie is nie net gemik op die groei van die maatskappy nie, maar op die breër ekonomiese ontwikkeling en die volhoubaarheid van die landbousektor.
“Uiteindelik is ons nie net besig om ’n besigheid te laat groei nie, ons koester ’n bedryf wat ’n nasie voed, ekonomiese ontwikkeling dryf en ’n volhoubare toekoms vir die toekomstige geslagte te verseker.”
Met haar aanstelling as HUB van Senwes stel sy dit ook duidelik dat sy nie beoog om die maatskappy in ’n heeltemal nuwe rigting te stuur nie. Sy het reeds ’n diep insig in Senwes se strategiese rigting, aangesien sy aktief betrokke was by beide die ontwerp en implementering van hierdie strategieë.
Sy beskou haar nuwe rol as ’n uitbreiding op die fondament wat haar voorganger oor die afgelope 24 jaar gevestig het.
Strydom sien ’n blink toekoms vir sy opvolger. “Debbie het die kennis, insig en werksetiek om suksesvol te wees. Sy moet net haar eie stempel afdruk en terselfdertyd onthou om ook die lewe te geniet.”
Hoewel Bester baie loopbaangedrewe is, bly haar gesin op Bothaville haar eerste prioriteit.
Tegnologiese en strukturele transformasie
Wanneer gevra of hy tevrede is met sy loopbaan, beklemtoon Strydom dat tevredenheid nie noodwendig ’n eindpunt moet wees nie. “Die dag wat jy tevrede is, is ’n slegte plek om te wees, want jy moet en kan altyd beter doen,” sê hy.
Hy glo in voortdurende groei en aanpassing, nie net vir homself nie, maar vir die hele organisasie. Hierdie filosofie het hom gehelp om Senwes deur ’n steeds veranderende landbou-omgewing te lei.
Strydom se loopbaan het in 1987 begin, ’n tyd toe die landboubedryf aansienlik anders gelyk het. Hy verduidelik hoe daar destyds net vier banke was wat met boere gewerk het, terwyl daar nou tien is, waarvan ses digitale platforms is. Hierdie verandering dui op die tegnologiese en strukturele transformasie van die bedryf.
LEES OOK: Debbie Bester aangestel as nuwe HUB van Senwes
Hy noem drie kernbeginsels het sy besigheidsbenadering gevorm: analise, prosesbestuur en leierskap. Hy beklemtoon die belangrikheid daarvan om besluite op feite en data te baseer eerder as emosie, en om ’n gestruktureerde proses te volg vir optimale uitkomste.
Tog is dit leierskap wat hy as die belangrikste element beskou. “Leierskap is dinamies. Dit gaan daaroor om mense te help groei en hulle te wys hoe hulle beter kan wees. Mense wil verander, maar hulle weet nie altyd hoe nie.”
Hoewel Bester haar loopbaan grootliks agter die skerms by Senwes deurgebring het, besef sy dat haar nuwe rol vereis dat sy meer sigbaar moet wees en direk met belanghebbendes moet skakel. “So natuurlik gaan ek nou voor die skerms moet kom.”
Onmisbare rol in die land se voedselsekerheid
Sy beplan om aktief by kliënte, bedryfsvennote en ander sleutelbesluitnemers betrokke te raak. “Dit gaan behels dat ek by ons kliënte uitkom, by ons bedryfspunt, en ek gaan vergader met die besluitnemers in die bedryf.”
Sy beskryf primêre produsente as die hartklop van die landboubedryf met ’n onmisbare rol wat hulle in die land se voedselsekerheid speel.
“Ek weet daar’s uitdagings soos klimaatsverandering, ekonomiese druk en beleidskwessies – en dis ’n realiteit. As ons saam werk, saam oplossings vind en aanpas, sal ons die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou kan versterk.”
‘Ek glo jy moet altyd leer en aanhou om ’n verskil te maak’
Senwes se rol, onder haar leiding, sal wees om boere te ondersteun met praktiese oplossings, waardevolle hulpbronne en voortdurende innovasie. “Ek wil vir julle oplossings bied, ek wil vir julle hulpbronne gee en ek wil innovasie vir julle bied, sodat julle op julle besighede kan verbeter.”
Terwyl Strydom sy formele rol by Senwes afsluit, is dit duidelik dat sy invloed en nalatenskap steeds in die landbousektor gevoel sal word. Hy is dankbaar vir die geleenthede wat hy gehad het en die mense met wie hy kon saamwerk.
“Ek glo jy moet altyd leer en aanhou om ’n verskil te maak.”
OFM Agri mvh