Agriculture
Nuwe Plantgesondheidswet versterk landbouhandel en biosekuriteit─── 11:15 Tue, 18 Feb 2025
![Nuwe Plantgesondheidswet versterk landbouhandel en biosekuriteit Nuwe Plantgesondheidswet versterk landbouhandel en biosekuriteit | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/50f19764-91c8-424a-92e8-c1f8e59cb3fc.jpg?crop=0,53,800,503)
John Steenhuisen, minister van landbou, is tevrede met die ondertekening van die Plantgesondheidswet, 2024 (Wet No. 35 van 2024), wat vroeër hierdie week deur pres. Cyril Ramaphosa bekragtig is.
Hierdie nuwe wet vervang die Landboupeswet, 1983 (Wet No. 36 van 1983) en bring vername verbeterings aan Suid-Afrika se fitosanitêre regulasies.
Die wet beoog om die invoer, vestiging en verspreiding van beheerde plae in Suid-Afrika te voorkom, asook om die beweging van plante, plantprodukte en ander beheerde artikels ná, binne en uit die land te reguleer.
Dit is spesifiek ontwerp om tekortkominge en uitdagings in die huidige fitosanitêre stelsel aan te spreek, insluitend grondwetlike kwessies en die belyning met internasionale voorskrifte en handelsooreenkomste.
Een van die belangrikste veranderinge wat die wet meebring, is die stigting van die Nasionale Plantbeskermingsorganisasie van Suid-Afrika (NPPOZA). Verder stel dit regulasies daar vir uitvoer, die hantering van plante in transito, en die heruitvoer van plantprodukte. Dit maak ook voorsiening vir die vestiging van plaagvrye gebiede en gebiede met lae plaagvoorkoms, wat deel is van Suid-Afrika se verpligtinge as lid van die Internasionale plantbeskermingskonvensie (IPPC).
[Media Statement??] New plant act to boost agricultural trade and biosecurity.
Read more, here: ?? https://t.co/UeeGUAxUQo@VukuzenzeleNews@GovernmentZA@GCISMediapic.twitter.com/aBZPHsE4d7—National Department of Agriculture (@DOAgov_ZA) February16, 2025
Die nuwe wet verseker samewerking tussen verskillende owerheidsfere in die bestuur van plae en siektes, en dien as ’n biosekuriteitsmaatreëel om die plaaslike landboubedryf te beskerm. Dit ondersteun die regering se doelwitte rakende volhoubare natuurlike hulpbronbestuur, nasionale regulatoriese dienste, risikobestuur, ekonomiese groei, werkskepping en voedselsekuriteit.
Met die implimentering van die Plantgesondheidswet, word Suid-Afrika beter geposisioneer as ’n belangrike speler in die internasionale mark met ’n gekoördineerde fitosanitêre bewakingsprogram en effektiewe kwarantynstelsels.
Dit sal nie net bestaande markte beskerm nie, maar ook nuwe uitvoermarkte vir Suid-Afrikaanse plantprodukte ontsluit, wat ’n positiewe impak op die ekonomie sal hê.