Agriculture
Regsregulasies rondom advertensieborde langs openbare paaie─── 07:39 Mon, 17 Feb 2025
![Regsregulasies rondom advertensieborde langs openbare paaie Regsregulasies rondom advertensieborde langs openbare paaie | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/c433f6f5-b4dc-4396-8990-970525ccec6f.jpg?crop=0,13,800,463)
In Suid-Afrika is advertensieborde langs openbare paaie ’n algemene gesig, veral langs nasionale snelweë waar groot handelsname hul dienste en produkte bemark. Maar wat is die wetlike regulasies rondom die oprigting van hierdie borde?
Hans-Jurie Moolman, bekende regskundige van Potchefstroom, verduidelik volgens wetgewing word advertensieborde langs nasionale paaie streng gereguleer. Die hoofrede vir hierdie regulering is motoriste se veiligheid en om ordelike beheer oor advertensieborde te verseker.
Indien ’n individu of besigheid ’n advertensiebord op hul eiendom wil oprig langs ’n nasionale pad, is dit noodsaaklik om toestemming van die Nasionale Padagentskap te verkry. Hierdie aansoekproses verseker dat die advertensie nie verkeersveiligheid in gedrang bring nie.
Die regulasies verskil egter wanneer dit by provinsiale of plaaslike paaie kom. Plaaslike owerhede en provinsiale regerings het dikwels hul eie reëls en regulasies rakende advertensieborde. Daarom word dit aanbeveel dat enige aansoeker nie net by die Nasionale Padagentskap navraag doen nie, maar ook by die betrokke munisipaliteit of provinsiale owerhede om te verseker dat alle vereistes nagekom word.
Indien ’n advertensiebord sonder die nodige vergunning opgerig word, loop die eienaar die risiko dat die owerhede dit mag verwyder. Daar was reeds hofsake waar munisipaliteite onwettige advertensieborde verwyder het.
LEES OOK: Plaasbewoners se vee: Wat moet ooreenkoms vervat?
In een so ’n saak het die hof beslis dat ’n munisipaliteit ’n hofbevel moet bekom om ’n onwettige kennisgewing te verwyder. Hierdie proses kan gepaard gaan met ’n koste-aansoek, wat beteken dat die oortreder moontlik vir regskostes aanspreeklik gehou kan word.
Om onnodige regsprobleme te vermy, word dit dus aanbeveel dat enige persoon of besigheid wat beplan om ’n advertensiebord op te rig, eers deeglik navraag moet doen en ’n wettige vergunning bekom. Dit verseker nie net voldoening aan die wet nie, maar voorkom ook moontlike regsgeskille en finansiële laste.
OFM Agri cg