On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Nuwe NWK HUB bou voort op ryk erfenis met tegnologie

───   ELZETTE BOUCHER 07:34 Mon, 17 Feb 2025

Nuwe NWK HUB bou voort op ryk erfenis met tegnologie | News Article
NWK-groep HUB Pieter Kleingeld. Foto: OFM

Met sowat twee dekades se ervaring in die finansiële sektor en ’n diepgewortelde passie vir landbou staan Pieter Kleingeld nou aan die hoof van Suid-Afrika se oudste landboumaatskappy.

Kleingeld het in November 2025 amptelik die leisels by Theo Rabe oorgeneem, wat ná 19 jaar diens besluit het om uit te tree en meer op sy boerdery te fokus. Hy dien egter wel nog in ’n raadgewende kapasiteit as uitvoerende beampte van projekte by NWK.

Kleingeld was vir sewe jaar werksaam as groephoof- finansiële beampte van NWK. Hierdie amp word nou deur Alfred White beklee.

Kleingeld, wat reeds sedert 1982 in Lichtenburg woon, het sy vroeë onderrig daar voltooi voordat hy hom tot rekeningkunde gewend het. “Ek het my klerkskap gedoen by een van die groot vier firmas in Lichtenburg en deeltyds gestudeer.” 

Ná ses jaar in Johannesburg het sy liefde vir landbou hom teruggebring na die platteland, waar hy as boer en later weer in die korporatiewe wêreld gewerk het.

Hy het sy loopbaan by NWK begin as hoof van interne oudit, voordat hy bevorder is tot groep finansiële beampte. “Ek is baie dankbaar vir die geleentheid om nou die maatskappy te lei.”

Een van Kleingeld se groot passies is tegnologie en die rol wat dit in landbou kan speel. “Ek is nog steeds besig met my boerdery op ’n deeltydse basis en toets graag nuwe tegnologie uit.” Hy beklemtoon hoe NWK belê het in presisieboerdery en digitale platforms om boere se toegang tot data en inligting te verbeter.

LEES OOK: Theo Rabe kyk terug op loopbaan by NWK

“Ons het ook groot vooruitgang gemaak met hommeltuig-tegnologie.” NWK se hommeltuie word reeds wyd in Noordwes en die Wes-Vrystaat gebruik vir agronomiese ontledings, bespuiting en selfs sekuriteit. “Dit is ’n veld wat vinnig groei en ons sien groot geleenthede om dit verder uit te bou.”

Vir Kleingeld is dit belangrik om NWK se ryk geskiedenis in ag te neem terwyl die maatskappy moderniseer. “Ons is al 115 jaar hier om produsente te dien. Hoewel dinge verander, bly ons kernmissie dieselfde: om boere se werk makliker te maak. Ons is dalk ’n korporatiewe maatskappy, maar ons doen dit met koöperatiewe beginsels.” Hierdie balans tussen erfenis en innovasie is ’n sleutelbeginsel van sy leierskap.

Voortdurend beter

Wat NWK se strategie vir 2025 betref, fokus Kleingeld op finansiële stabiliteit en uitbreiding. “Ons wil ons aanlyn platform hierdie maand bekend stel en ons hommeltuigbesigheid verder uitbrei.” 

Daar is ook beleggings in brandstofverspreiding gemaak met die aankoop van drie tenkwaens wat jaarliks sowat 30 miljoen liter brandstof kan vervoer. “Ons doel is om kliënte beter te verstaan en voortdurend te verbeter om hul behoeftes te ondersteun.”

OFM Agri cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.