Agriculture
Thaba Nchu-groenteprojek neem groot stap na kommersialisering─── 13:34 Wed, 12 Feb 2025
![Thaba Nchu-groenteprojek neem groot stap na kommersialisering Thaba Nchu-groenteprojek neem groot stap na kommersialisering | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/31771023-e909-493e-adf6-5b43b58e8322.jpg?crop=0,0,800,450)
’n Gemeenskapsgedrewe groenteprojek in Thaba Nchu, ondersteun deur AfriForum en Saai, beweeg na kommersialisering met ’n suksesvolle uie-oes wat inkomste genereer en selfstandigheid bevorder.
Die groenteprojek by die Noga’s Post-nedersetting buite Thaba Nchu in die Vrystaat, wat deur die gemeenskap, kgosi (koningin) Gaboilelwe Moroka, AfriForum en Saai bestuur word, het onlangs ’n merkwaardige mylpaal bereik met ’n oes van 800 kg uie.
Dié oes is in naburige nedersettings en skole verkoop, terwyl sommige van die uie geskenk is aan persone met gestremdhede en bejaardes in die gemeenskap. Die opbrengs uit die verkope word weer belê in die volgende plantsiklus en bied terselfdertyd ’n inkomste aan die betrokke gemeenskapslede.
Die gemeenskap was veral trots daarop om van die uie aan kgosi Gaboilelwe en mohumagadi (koninginmoeder) Gaongalelwe Moroka te oorhandig.
Verantwoordelikheid en samewerking
Die projek het sy ontstaan in 2020 gehad toe kgosi Gaboilelwe (toe nog die hoofvrou van Noga’s Post), saam met die gemeenskap, AfriForum en Saai die inisiatief geneem het. Die groentetuin van sowat 0,75 ha is nader aan die gemeenskap geskuif, omhein en van ’n boorgat en sonkraggedrewe drupbesproeiingstelsel voorsien.
Voorheen was die tuin sonder besproeiing en ontoeganklik tydens swaar reën, wat sy sukses bedreig het.
Hoewel die tuin as ’n gemeenskapsprojek uitgelê is, besit en bestuur individuele gemeenskapslede hul eie beddings. Hierdie model, waar verantwoordelikheid en samewerking hand aan hand gaan, het ’n deurslaggewende rol in die sukses van die projek gespeel.
“Landbouontwikkeling is ’n sleutelkomponent in ons plan om die Barolong Boo Seleka-kultuurgemeenskap se lewensgehalte te verbeter. Ek is trots op hierdie gemeenskap wat met deursettingsvermoë werk om hul eie toekoms te bou.
“Dit is bemoedigend om te sien hoe ons mense slagofferskap verwerp en hul toekoms in eie hande neem,” sê kgosi Gaboilelwe Moroka.
“Die verkryging van inkomste deur die verkope van die oes is ’n belangrike stap in die gemeenskap se reis na selfstandigheid.
‘Inspirerend om die gemeenskap te sien groei’
“Dit is ’n voorreg om met toegewyde gemeenskapslede saam te werk wat bereid is om hul lewens te verbeter,” sê Nantes Kelder, nasionale projekkoördineerder vir Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.
Leon Lourens, ontwikkelingskoordineerder by Saai, beklemtoon: “Saai se betrokkenheid by projekte soos hierdie fokus op die meganisering, modernisering en kommersialisering van kleinskaalse boerdery. Dit is inspirerend om die gemeenskap te sien groei op hierdie pad na kommersialisering.”
Sommige van die uie wat geoes is. Foto: AfriForum
Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum, wys op die potensiaal van kommunale landbougrond: “Daar is baie onbenutte landbougrond in ons landelike gebiede, maar ’n tekort aan finansiering en kundige ondersteuning bly ’n uitdaging.
“Dit is waar AfriForum en Saai saam met tradisionele leiers en gemeenskappe betrokke raak om ’n daadwerklike verskil te maak.”
“Sulke samewerkende projekte, gegrond op wedersydse erkenning en respek, bevorder ook begrip, goeie verhoudings en samewerking – alles noodsaaklik vir ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir alle kultuurgemeenskappe in Suid-Afrika,” sluit Uys af.
OFM Agri/Robyn Schutte cg/mvh