On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Afwaartse prystendens duur voort vir witmielies

───   05:00 Wed, 12 Feb 2025

Afwaartse prystendens duur voort vir witmielies | News Article
Foto: Getty Images

Dr. Johnny van der Merwe, landbou-ekonoom aan die Noordwes-Universiteit en ontleder by AMT, deel sy weeklikse verslag oor graan- en vleispryse.

Die witmielie-spotprys het oor die afgelope drie weke aansienlik gedaal en die tendens het voortgeduur in die begin van hierdie week. Die prys verhandel op R5 735 per t, wat ’n skerp daling is van bo R7 000 per t drie weke gelede. 

Die Julie 2025-kontrak vir witmielies het verder gedaal na R4 555 per t, terwyl die geelmielieprys tans op R5 110 per t staan, met die Julie 2025-kontrak op R4 250 per t.

Die sojaboon-spotprys het egter gestyg na R9 498 per t op Dinsdag, terwyl die Mei 2025-kontrak laer verhandel op R8 220 per t. Die sonneblom-spotprys het effens gedaal na R9 700 per t, met die Mei 2025-kontrak op R9 145 per t. 

Koring se spotprys bly relatief stabiel op R5 960 per t, met die Desember 2025-kontrak op R6 148 per t.

Die invoerpariteit vir sorgum geland in Durban staan tans op R5 639 per t, terwyl uitgedopte Argentynse grondbone verhandel teen R25 525 per t. Die nuutste katoen-invoerpariteitprys is R10 460 per t.

Mieliepryse

Plaaslike mieliepryse bly in ’n afwaartse tendens, met die sewe-dag gemiddelde prys vir wit- en geelmielies, sojabone en sonneblomme wat onder die 21-dag gemiddelde ingeskuif het. Dit dui op ’n verdere afwaartse neiging en sterk verkoopseine in hierdie markte.

Internasionale faktore beïnvloed ook pryse, soos die opheffing van Mexiko se verbod op GMO-mielies en Brasiliaanse safrina-aanplantings wat later plaasgevind het as normaal. Indien opbrengsverliese in Brasilië voorkom, kan mieliepryse weer later ondersteuning kry.

Speenkalfpryse het gedaal en verhandel tans op R34,22 per kg, met uit die hand verkope op R35,64. Ligter kalwers (160-200 kg) se prys het gestyg na R33,62 per kg, terwyl swaarder kalwers (250-300 kg) effens hoër staan op R32,98 per kg. 

Die nasionale gemiddelde speenkalfprys kan moontlik verder daal tot Maart en stabiliseer rondom R32,50 per kg.

Slagpryse vir beesvleis bly redelik stabiel, met die A2/3 karkasprys op R55,96 per kg en die C-graad karkasprys op R48,33 per kg. Slagpryse kan moontlik sywaarts bly tot einde Februarie en weer begin styg vanaf Maart tot Mei.

Skaapbedryf

In die skaapbedryf het die gemiddelde stoorlamprys gestyg na R40,56 per kg, terwyl slaglampryse ook hoër is op R42,05 per kg. Direkte of uit die hand verkope het ook effens gestyg. 

Pryse behoort relatief stabiel te bly oor die volgende maand, met ’n moontlike styging vanaf Maart tot middel Julie.

OFM Agri mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.