On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Nuwe mieliesiekte in vier provinsies aangemeld

───   ELZETTE BOUCHER 07:34 Fri, 17 Jan 2025

Nuwe mieliesiekte in vier provinsies aangemeld | News Article
Goss- bakteriese verwelk en verwelkskroei op mielies. Foto: Universiteit van Minnesota

Die International Plant Protection Convention (IPPC) van die Voedsel- en landbou-organisasie van die Verenigde Nasies meen hoewel Goss- bakteriese verwelk en verwelkskroei in die land aangemeld is, dit nog nie wyd voorkom nie en “onder beheer” is.

Volgens die Universiteit van Minnesota is dié bakteriese mieliesiekte se primêre simptome op blare langwerpige bruin letsels met onreëlmatige marges wat parallel met die are strek. 

“Groot dele van blaaroppervlakte kan aangetas word. Donker, waterdeurdrenkte kolle (‘spikkels’) ontwikkel in die letsels. Blink kolle van gedroogde bakteriese slyk wat soortgelyk aan droë vernis lyk, is dikwels op die letsels teenwoordig.”

‘Bakterie is tans onder amptelike beheer’

Die Nasionale Plantbeskermingsorganisasie van Suid-Afrika (NPPOZA) is ingelig dat die bakterie Clavibacter michiganensis subsp. nebraskensis, wat in Amerika voorkom, in vier provinsies van Suid-Afrika opgespoor is. “Hierdie bakterie, wat veral mieliegewasse bedreig, is tans onder amptelike beheer en word nie wyd versprei nie,” lui die aankondiging van IPPC.

Die bakterie is in die Vrystaat (Parys), Noordwes (Fochville, Lichtenburg, en Potchefstroom), Gauteng (Carletonville) en Oos-Kaap geïdentifiseer. “Monsters is deur die NPPOZA versamel en deur molekulêre tegnieke soos PCR en DNS-volgordebepaling bevestig.”

’n Mielieblaar wat deur die siekte geraak is. Foto: Universiteit van Minnesota.

In die Oos-Kaap is die bakterie ook deur visuele inspeksies opgespoor. Geen verdere gevalle is in ander provinsies aangemeld nie, en deurlopende opnames word in ander mielieproduserende streke uitgevoer.

IPPC sê verder die Departement van Landbou het streng fitosanitêre maatreëls ingestel om die verspreiding van die bakterie te beperk. “Aangetaste plase word noukeurig gemonitor, en beperkte sonerings word toegepas om die risiko van oordrag na ander provinsies te verminder.”

Die departement doen ook navorsing oor die epidemiologie van die siekte en ontwikkel bestuurstrategieë om mielieprodusente te ondersteun. “Verdere opnames word uitgevoer om die omvang van die siekte te bepaal en die doeltreffendheid van bestaande beheermaatreëls te verbeter.”

‘Moontlik ’n negatiewe impak hê op die uitvoerpotensiaal van landbouprodukte’

IPPC meen die verspreiding van Clavibacter michiganensis subsp. nebraskensis kan ernstige implikasies inhou vir plaaslike en internasionale handel in mielies en ander vatbare gewasse. 

“Die bakterie kan moontlik ’n negatiewe impak hê op die uitvoerpotensiaal van Suid-Afrikaanse landbouprodukte en die volhoubaarheid van mielieboerdery in die land.”

OFM Agri mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.