Agriculture
Hendrik Potgieter Landbouskool vier suksesvolle jaar─── ROBYN SCHUTTE 05:00 Fri, 17 Jan 2025
Hendrik Potgieter Landbouskool op Reddersburg het 2024 met groot sukses afgesluit.
Die skool het uitgestaan met hul rugby-, skeer- en farm skills-prestasies, terwyl hulle ook nasionale jeugskoutitels gewen het. Met ’n 100% slaagsyfer en 77% graadkwalifikasie is akademiese uitnemendheid ook bevestig.
Skoolhoof Christi Swarts meen hul sukses is te danke aan spanwerk, harde werk en genade. Hy beskryf 2024 as ’n seisoen van oorwinnings en mylpale:
- Die eerste rugbyspan het die Vrystaatse B-liga gewen en ook in die uitspeelrondes sukses behaal.
- Op die Bloemskou het leerders nasionaal uitgeblink met skeer- en wolhantering.
- Die skool het die Vrystaat Farm Skills-kompetisie gewen, waar leerders hulle vaardighede in draadspan, grasidentifikasie, jeugskou en sweiswerk ten toon gestel het.
- Sewe leerders het nasionale jeugskoutitels gewen – ’n besonderse prestasie vir die skool.
Akademiese uitslae
Swarts is veral trots op die skool se akademiese uitslae.
“Hendrik Potgieter het ’n 100% slaagsyfer gehandhaaf, met 77% van die leerders wat vir graadstudies kwalifiseer. Ons het ook agt onderskeidings behaal, met vier in Engels. Dit wys dat ons leerders hier op Reddersburg uitstekend kan vaar.”
Die skool se trots is verder versterk deur JW Mortlock, ’n matrikulant wat ’n volle beurs aan die Universiteit van die Vrystaat ontvang het om BSc Landbougenetika te studeer.
Swarts het die belangrikheid van spanwerk benadruk: “Eendrag maak mag. Dit verg samewerking, toewyding en respek tussen personeel en leerders om sulke resultate te lewer.
“Dit is harde werk, maar dit is genade wat ons dra.”
Raad vir jong mense
“My raad vir jongmense,” sê Swarts. “Kyk op, werk hard en wees eerlik. Hierdie eenvoudige beginsels kan jou deur die lewe dra sonder spyt.”
Hendrik Potgieter Landbouskool, met slegs 26 matrikulante, het met 2024 bewys dat klein skole groot dinge kan doen.