Agriculture
Nuutste skattings vir wintergewasse 2024─── 08:18 Fri, 20 Dec 2024
Die jongste verslag van die Oesskattingskomitee wys daarop dat Suid-Afrika se verwagte koringproduksie vir die 2024-seisoen effens afgeneem het.
Die nasionale produksieskatting staan tans op 1,935 miljoen t., wat 0,24% of 4 650 t. laer is as die vorige skatting van 1,940 miljoen t. Die verwagte gemiddelde opbrengs is 3,83 t. per hektaar.
Wes-Kaap toon daling, Noord-Kaap hoër
Die Wes-Kaap, wat 56% van die land se koring lewer, toon ’n daling in produksie. Die verwagte oes vir die provinsie is nou 1,086 miljoen t. – ’n afname van 1,67% of 18 400 t. vergeleke met die vorige skatting.
In teenstelling hiermee het die Noord-Kaap ’n toename in sy produksieskatting gesien. Die provinsie se verwagte produksie is nou 292 600 t. (15% van die totale produksie), wat 2,67% of 7 600 t. hoër is as die vorige skatting. Die Vrystaat se produksieskatting bly onveranderd op 222 950 t. (12% van die nasionale produksie).
Die oppervlakteskatting vir koring bly onveranderd op 505 300 hektaar, met 73% van hierdie area in die Wes-Kaap, 10% in die Vrystaat en 8% in die Noord-Kaap.
Ander gewasse toon gemengde resultate
- Die produksieskatting vir gars het verbeter en staan nou op 377 050 t., ’n styging van 1,48% of 5 515 t. vanaf die vorige skatting. Die oppervlakte vir gars word beraam op 100 700 hektaar, met ’n verwagte opbrengs van 3,74 t. per hektaar.
- Kanola-produksie is onveranderd op 295 445 t., met ’n oppervlakteskatting van 165 750 hektaar en ’n opbrengs van 1,78 t. per hektaar.
- Vir hawer word ’n oes van 50 300 t. verwag, gebaseer op ’n oppervlakte van 31 000 hektaar en ’n gemiddelde opbrengs van 1,62 t. per hektaar.
- Soetlupine bly ’n kleiner gewas in terme van produksie. Die huidige skatting staan op 19 200 t., met ’n oppervlakte van 16 000 hektaar en ’n opbrengs van 1,20 t. per hektaar.
Volgende verslag
Die sesde produksieskatting vir wintergewasse sal op 28 Januarie 2025 bekendgestel word.
OFM Agri mvh