Agriculture
Hulp beskikbaar aan boere in nood─── ELZETTE BOUCHER 05:30 Fri, 20 Dec 2024
Boere in sekere dele van die land gaan steeds gebuk onder uiters uitdagende omstandighede te midde van voortslepende droogte en ekonomiese druk.
Volgens ds. Kobus van Tonder, voorsitter van die NG Kerk in Noord-Kaapland se taakspan oor gemeenskapsversorging, is die situasie vir baie boere emosioneel en finansieel ondraaglik.
“Ons boere beleef geweldige spanning. Weidingstoestande is swak, voerskuld bly hoog, en boere het groot kontantvloeiprobleme,” sê Van Tonder.
Die ongunstige ekonomiese klimaat en swak produkpryse dra verder by tot die druk op die landboubedryf.
Van Tonder verduidelik dat groot dele van die Noord-Kaap steeds nie noemenswaardige reën ontvang het nie, wat die herstel van weiding vertraag. “Veld wat in vorige seisoene deur brande verwoes is, toon steeds geen verbetering nie, wat boere dwing om duur voer in te koop.”
Die hoë insetkoste en beperkte kontantvloei dwing sommige boere om moeilike besluite te neem, soos om mediese versekering of pensioenbydraes op te skort. Hierdie “reaktiewe” benadering tot finansiële besluite plaas hulle soms in selfs groter nood.
Geestesgesondheid in die landbou
Die aanhoudende spanning en onsekerheid lei tot ’n merkbare toename in geestesgesondheidkwessies onder boere. Volgens Van Tonder is depressie, angs en hopeloosheid algemeen. “Ons sien dat boere hulle begin isoleer, energievlakke daal, en hulle sukkel om die daaglikse uitdagings die hoof te bied.”
Van Tonder beklemtoon die belangrikheid van vroeë ingryping en die soeke na professionele hulp. “Gesinne moet oop kommunikasie handhaaf en saam planne maak om uitdagings te hanteer. Dit is ook noodsaaklik dat boere professionele hulp soek, soos berading of finansiële beplanning.”
Gemeenskapsbetrokkenheid en ondersteuning
Die NG Kerk se taakspan vir gemeenskapsversorging, in samewerking met organisasies soos Caritas, bied deurlopende ondersteuning aan boere en hul gesinne. Caritas bied ’n 24-uur noodnommer en terapeutiese dienste aan, selfs vir diegene wie se mediese fondse uitgeput is.
Van Tonder wys ook daarop dat gemeenskapslede ’n sleutelrol speel in die ondersteuning van mekaar. “Boere moet uitreik na hul bure, gesels oor hul uitdagings en saam werk aan moontlike oplossings.”
Beskikbare hulpbronne
Caritas se 24-uur noodnommer is beskikbaar by 083 415 1484, en e-posse kan gestuur word na terapiesentrum@caritas.org.za. Vir humanitêre hulp of ander navrae kan kontak gemaak word met Van Tonder self via sy e-posadres, kobusvt04@gmail.com.
OFM Agri mvh