On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Anny
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Geestesgesondheid: Práát voor dit te laat is

───   ELZETTE BOUCHER 05:00 Fri, 20 Dec 2024

Geestesgesondheid: Práát voor dit te laat is | News Article
Dean en Carla Barnard by die Agri Wes-Kaap Jongboer van die Jaar toekenningsgeleentheid. Foto: Agri Wes-Kaap

In ’n samelewing waar manlikheid dikwels deur onwrikbaarheid gedefinieer word, breek Dean en Carla Barnard die swye oor geestesgesondeheid met hul eerlike en hoopvolle storie.

Dean Barnard is aan talle in landboukringe en selfs die breër publiek bekend as die 2024 Wes-Kaap Jongboer van die Jaar, ’n produsent van Waboomskraal, tussen George en Oudtshoorn, wat vanjaar ’n Guinness-wêreldrekordgrootte pruim produseer het, en ook ’n man wat kaalvuis oor sy stryd met angs en posttraumatiese stres gesels. 

Hy het aan OFM Agri sy 28ste onderhoud, sedert hy op die podium by die Wes-Kaapse Jongboer toekenningsgeleentheid in Junie oor die onderwerp gepraat het, toegestaan.

“Toe ek jonger was, het ek op adrenalien gefunksioneer,” vertel Dean. “Maar wanneer dinge skeefloop, besef jy nie altyd die impak van daai trauma nie. Dit bly agter in jou kop en vorm jou sonder dat jy dit besef.”

Sy dogter se voortydige geboorte was die begin van ’n reeks gebeure wat Dean se lewe ingrypend sou verander. “Sy is op sewe maande gebore en moes vir sewe weke in die NICU bly. Twee weke ná haar geboorte het die dokter gesê sy is besig om grys te word en ons moet kom groet.”

Dean beskryf hoe hy gebid het dat God sy kind moet spaar en toe het hy ’n oproep van sy vrou, Karla, ontvang met onverklaarbare nuus: hulle dogter se toestand het skielik verbeter.

‘Ons het net aangegaan’

Hul seuntjie het ook op ’n stadium nouliks aan die dood ontkom toe hy ’n ernstige allergiese reaksie gehad het. Dean erken dat die gesin nooit behoorlik oor die ervaring gepraat het of berading gesoek het nie. “Ons het net aangegaan,” sê hy.

Toe hy ’n geliefde vriend aan die dood moes afstaan, het Dean se eie stryd begin eskaleer. “Drie weke ná sy dood het ek my eerste angsaanvalle begin kry. 

“Dit het so erg geword dat ek sewe keer in twee weke in ongevalle beland het. Ek het regtig gedink ek gaan ’n hartaanval kry.”

‘Here, as U nie vandag vir my ’n boodskap gee nie, kan ek nie meer nie’

Wat gevolg het, was ’n donker tyd waarin depressie en angs sy lewe oorheers het. Hy het ook medikasie ontvang wat nie met akkodeer het nie. Op ’n oggend in Januarie 2021, op sy seun se verjaarsdag, kon Dean die gewig van sy emosionele pyn nie meer dra nie. 

“Ek het besluit ek gaan selfmoord pleeg. Ek kon nie meer met hierdie knop in my keel en die benoudheid in my liggaam aangaan nie.”

Sy diepste wanhoop het hom gelei na die ‘witdam’ op die plaas, waar hy besluit het om een laaste keer met God te praat. “Ek het gesê, ‘Here, as U nie vandag vir my ’n boodskap gee nie, kan ek nie meer nie’.” 

‘Die Here het my deur ’n moeilike pad geneem’

Toe hy sy Bybel oopmaak, het hy op ’n teks afgekom wat gesê het: “Ek, die Here jou God, het jou gebed verhoor en sal jou van al jou siektes genees.”

Hierdie oomblik van verligting en genade het hom teruggetrek van die rand af. Maar Dean bly eerlik oor die uitdagings wat daarna gevolg het. 

“Genesing was nie onmiddellik nie. Dit was ’n proses, en die Here het my deur ’n moeilike pad geneem. Soms voel dit of ek, soos Job, vir die duiwel gegee is, maar hy het my lewe nie gevat nie.”

Die onsigbare struikelblokke

“Ek het dit glad nie sien kom nie,” erken Carla, Dean se vrou. Soos baie ander het sy die subtiele tekens van haar man se innerlike stryd misgekyk. 

Dean se geveg met angs en depressie het hom stilweg verteer, versterk deur die stigma dat mans nie oor hul emosies mag praat nie. “Mans word geleer dat hulle nie mag huil of hul gevoelens mag wys nie.”

“Die eerste stap was om te erken ek het ’n probleem,” vertel Dean. Dit was ’n stryd om hulp te soek, veral omdat hy nie aanvanklik die stigma van sielkundige ondersteuning kon oorkom nie. 

‘Ek het begin drink’

“Jy verstaan nie watse vernedering dit was om die eerste keer met ’n sielkundige of ’n traumaberader te gaan praat nie. Jy wil nie eers vir iemand daarvan sê nie. Dit was vir my verskriklik gewees.”

Wanneer Dean terugkyk, het daar reeds twee jaar voor sy vriend se dood begin krake vorm. 

“Nie een van ons het dit besef nie. Ek het begin drink. Ek het elke aand voor die TV gaan sit met ’n bottel brandewyn.”

Die krag van bystand

Vir Carla was dit ’n ondenkbare skok om haar man se worsteling te sien. Sy moes leer hoe om hom by te staan in ’n tyd toe sy self kwesbaar gevoel het. 

“Dit het lank gevat om te aanvaar dat Dean deur hierdie dinge gaan. Hy was my held – hoe kan hy so breekbaar wees?” Maar deur geduld en aanvaarding het sy ’n veilige ruimte geskep waar Dean openlik oor sy emosies kon praat.

Dean se pad na herstel was nie maklik nie. Hy het ’n bewuste besluit geneem om nie op antidepressante staat te maak nie, maar eerder trauma-behandeling te ondergaan. Hy erken dat sy gesin – veral Carla – ’n noodsaaklike rol gespeel het. 

‘Jy kan net sóveel trauma hanteer’

“Ek sal nooit genoeg dankie kan sê vir haar bystand nie. Sy het my na elke sessie geneem en my ondersteun wanneer ek nie eens die krag gehad het om self te bestuur nie.”

Hy voeg by een van die persone in die verhouding moet tot die besef kom “ons is net mense; ons is net van vlees en bloed gemaak. Jy kan net sóveel trauma hanteer.” 

Die een moet vir die ander sê: “Luister hier, ek het werklik hulp nodig.”

Genesing as ’n spanpoging

“Jy moet hierdie ding as ’n as ’n span aanpak. Dis nie ’n alleenpaadjie hierdie nie,” sê Carla.

Vir die Barnard-gesin het genesing ’n gesamentlike poging geword. Hulle het ’n roetine van oopheid en ondersteuning geskep. 

Dean deel: “Ek het geleer om my prioriteite te herrangskik. Waar ek voorheen geld en sukses bo alles gesoek het, is die Here nou eerste, dan my vrou en kinders en dan sukses.” 

‘Dit moedig hom aan om sy gevoelens te deel’

Hierdie nuwe fokus het ’n sterk fondament gebou vir hul gesin se welstand.

Hulle praat ook openlik met hul kinders oor geestesgesondheid. Carla beklemtoon ook hoe belangrik dit vir vroue is om die gesprek oor emosies aan te moedig. 

“Ons vrouens hou van praat, en dit is ’n kragtige hulpmiddel. Wanneer ek ons seun by die skool haal, begin ek altyd die gesprek oor my dag. Dit moedig hom aan om sy gevoelens te deel.”

’n Nuwe hoop

Die Barnards se storie is een van nederigheid, vasberadenheid, en geloof. Hulle wys dat probleme met geestesgesondheid nie die einde hoef te wees nie, maar eerder die begin van ’n reis na genesing.

En, ja, hy kry steeds sy ‘afdae’. “Ek sal sommer party dae vir Carla sê ‘Jong, ek voel nie lekker nie, ek wil net bietjie huil’, dan voel ek weer beter oor myself. En ons gaan aan.”

Dean beskryf hoe sy verhouding met God – en sy eie openhartigheid – hom gehelp het om sy lewensdoel te hervind. 

‘As ons net een persoon kan help, is alles die moeite werd’

Elke dag begin hy met ’n eenvoudige, maar kragtige dankbaarheid: “Dankie, Here, dat ek vanoggend kan wakker word.”

“Ek glo ek is deur hierdie hele ding gesit omdat die Here wil hê die boodskap moet uitkom. Depressie en angs in ’n in ’n geselskap is amper soos veertig, vyftig jaar terug as as ’n  vrou swanger geraak het voor die huwelik. 

Dis was ’n taboe gesprek. Nou kan ek openlik daaroor praat. As ons net een persoon kan help om hul lewe te red, is alles die moeite werd.”

OFM Agri mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.