On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Verklaar Vrystaat tot rampgebied, vra VF Plus

───   MARIETJIE GERICKE 06:00 Thu, 19 Dec 2024

Verklaar Vrystaat tot rampgebied, vra VF Plus | News Article
Verdorde mielieland. Foto ter illustrasie: Canva

Die VF Plus vra in ’n brief aan die Vrystaatse premier dat die provinsie met sy hittegolwe en droogte nou tot rampgebied verklaar word.

Armand Cloete, VF Plus-wetgewerlid, skryf in ’n brief aan Jabu Mbalula – wat tot onlangs waargeneem het as premier voor Maqueen Letsoha-Mathae Maandag (16/12) weer die leisels oorgeneem het – die versoek word verrig weens die groot gebiede in die provinsie waar klimaatsomstandighede dui op ’n erge droogte.

“Weerkundiges het aangedui dat die provinsie laat en ondergemiddelde reënvalsyfers kan verwag,” sê hy. Die toestand affekteer reeds die provinsie op ernstige wyse omdat damvlakke aansienlik laer is as ’n jaar gelede.

Armand Cloete, VF Plus. Foto verskaf

“In Vrystaatse munisipaliteite sukkel hulle om genoeg water aan inwoners te lewer en is daar orals uitdagings met volhoubare waterlewering.”

Die landbousektor word ook ernstig bedreig, sê Cloete. Boere in die Suid- en Wes-Vrystaat is afhanklik van reën, “wat eenvoudig nog nie gebeur het nie”.

“U sal moet saamstem,” skryf Cloete aan die premier en LUR’s aan wie hy afskrifte gerig het, “as die Vrystaatse … regering hoë waarde aan die landbousektor heg as ’n ekonomiese menigvuldiger en bron van voedselsekuriteit vir die provinsie en die land in die algemeen, dit van pas sal wees om die sektor te beskerm.”

‘Waarsku dat die boere weens die droogte in gevaar verkeer’

As ’n rampgebied afgekondig word, mag die premier kragtens die Wet op Rampbestuur van 2002 sekere hulp verleen.

Cloete vra in sy brief die premier moet dringend met die provinsiale rampbestuursentrum vergader en dit oorweeg om die provinsie tot rampgebied te verklaar. Dan kan hulpbronne beskikbaar gestel word en optrede gekoördineer word sodat hulp dringend gelewer kan word.

Dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van Vrystaat Landbou (VL), sê die organisasie het op 11 Desember namens die boere ’n brief aan Elzabé Rockman, LUR vir landbou, gestuur om te waarsku dat die boere weens die droogte in gevaar verkeer.

Dr. Jack Armour, Vrystaat Landbou. Foto: vrystaatlandbou

Armour skryf ná ’n desperate brief van die Boerevereniging van Nketoana in die distrik Reitz het Francois Wilken, VL-voorsitter, ’n ondersoek gedoen waar hy op WhatsApp vra na die algemene toestand van die veld en die gewasse in die provinsie.

“Ons het van al die 20 streeksverteenwoordigers … gehoor dat die mielies en sojabone wat net besig was om op te kom, verskrompel het. “As dit nie in die volgende paar weke reën nie, sal gewasse oorgeplant moet word. Daar is ook ’n derde van die plaasboere wat nog glad nie kon plant nie.”

Wat veeboere betref, moet boere teen hoë koste voer vir vee aankoop.

Hulpverlening

Vrystaat Landbou doen ’n beroep aan diegene wat wel nog voer het, om dit beskikbaar te stel deur plaaslike landbouverenigings. Donasies of aanbiedinge van voer wat te koop is, kan ook aan Vrystaat Landbou se kantore deurgegee word. Daar is veral ‘n behoefte aan
molasse of aanvullings wat met koringstrooi gemeng word sodat dit makliker deur diere verteer kan word.

  • Kontaknommers: 0514444609 of 0716720271 (Whatsapp). Agri Arlington voorsitter: Johnny Roodt: 073 183 0770; e-pos: agriarlington@mail.com.
  • Donasies kan ook aanlyn gedoen word op https://vrystaatlandbou.co.za/af/donate/. 

OFM Nuus/Marietjie Gericke mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.