Agriculture
Senwes: 2024 ’n jaar van herskikking en hoop─── ELZETTE BOUCHER 07:00 Thu, 19 Dec 2024
Francois Strydom, uitvoerende hoof van die Senwes-groep, gee ’n oorsig van die uitdagings en suksesse wat die landbousektor in 2024 ervaar het.
Internasionale en plaaslike invloed op landbou
Volgens Strydom was 2024 ’n jaar van aansienlike verandering met internasionale en plaaslike gebeure wat groot invloed gehad het op die landbousektor. “Aan die begin van 2024 het ons voorspel dat verskeie verkiesings en konflik ’n groot invloed sou hê. Dit het presies so uitgewerk en selfs ’n bietjie meer.”
Hy verwys spesifiek na die invloed van internasionale konflikte, insluitend die onlangse voorvalle in Sirië wat steeds ontvou. Hierdie gebeure het ’n domino-effek op markte en risiko-patrone gehad wat Suid-Afrikaanse produsente direk en indirek geraak het. “Alles wat internasionaal gebeur het ’n impak op ons. Byvoorbeeld, die Amerikaanse verkiesing is belangrik vir ons omdat ons regering hulself meer in die Brics-groepering skaar.”
Verskillende sektore se suksesse en uitdagings
Strydom het die unieke uitdagings en suksesse van verskillende sektore in die landbousektor bespreek. Hy wys daarop dat landbou baie meer behels as net boerdery. “Die waardekettings is omvattend – van wat met produkte gebeur voordat dit by die boer uitkom tot wat daarmee gebeur nadat dit geproduseer is. Dit sluit prosessering, groothandel, kleinhandel en uitvoer in.”
Sitrus: ’n Ligpunt
Sitrusboere het vanjaar baat gevind by internasionale markgeleenthede. Wêreldwye tekorte aan lemoensap weens siekteuitbrekings in Kalifornië en oorstromings in Spanje,het Suid-Afrikaanse produsente bevoordeel. “Hierdie situasie het veroorsaak dat ons amper enige sitrusproduk in ’n sak kon plaas en na ’n lemoensapvervaardiger kon stuur teen ’n goeie prys. Dit was ’n welkome verbetering ná moeilike jare van oorproduksie en logistieke uitdagings.”
Lewendehawe: ’n Swaar Jaar
Vir lewendehaweboere was 2024 moeiliker. Hoë produksiekoste en lae plaaslike pryse het boere onder druk geplaas. “Die verbruiker se spanderingsvermoë het afgeneem en dit het ’n direkte impak gehad op die verbruik van vleisprodukte. Terselfdertyd het die kostekomponent van produksie aansienlik gestyg.” Droogte in die weste van die land het ook tot ’n swaar jaar vir boere in daardie streke bygedra.
Graan: Gemengde resultate
Die graansektor het ’n afname in produksie ervaar weens droë toestande in Maart, April en Mei. “Hierdie warm, droë toestande het ongeveer ’n derde van die land se graanproduksie weggevat. Boonop was daar internasionaal oorproduksie wat pryse onder druk geplaas het.”
Tog het witmielieboere in sekere streke voordeel getrek uit hoë pryse aangesien droogte die aanbod in ander streke beperk het. “Die uitdaging is dat hoë pryse slegs voordelig is as jy ook volume het. Sonder volume beteken hoë pryse niks.”
Infrastruktuur en waardeskepping
Strydom beklemtoon die belangrikheid van infrastruktuur in landbou. Hy wys daarop dat die Vrystaat en Noordwes van Suid-Afrika se kerngebiede is vir die produksie van vleis, graan, wol en ander kommoditeite. “Hierdie sentrale gebiede is van nasionale en internasionale belang. Dit is kritiek dat ons in infrastruktuur belê om waarde in die platteland te skep.”
Hy het ook die rol van landboubesighede soos Senwes uitgelig. Die groep herbelê ’n derde van hul wins in plaaslike gemeenskappe en infrastruktuur. “Oor die afgelope tien jaar het ons meer as R1,4 miljard belê in werkskepping, voorraad, en instandhouding van basiese infrastruktuur wat die regering nie meer verskaf nie. Dit sluit paaie, water, en sekuriteit in.”
Boodskap van dankbaarheid en hoop
Vir die feestyd deel Strydom ’n spesiale boodskap met Suid-Afrikaanse boere: “Daar is twee dinge wat ons in gedagte moet hou. Die eerste is dankbaarheid – vir wat goed en sleg is want daar is ’n hoër hand wat dit bepaal. Als gebeur met ’n doel. Die tweede is hoop. Hoop is wat ons vorentoe dryf. Sonder hoop verloor ’n mens jou doel en motivering.”
Hy sê dis belangrik om empatie en omsigtigheid teenoor ander mense te toon. “Ons weet nie altyd wat in ander se lewe aangaan nie. Dit is nodig om met respek en begrip teenoor mekaar op te tree.”
Vooruitsigte vir landbou
Ten spyte van ’n uitdagende jaar bly hy positief oor die toekoms van landbou in Suid-Afrika. Hy wys daarop dat Suid-Afrika se boere steeds ’n groot bydrae tot die ekonomie maak. “Ons boere produseer jaarliks sowat R500 miljard se produkte waarvan die helfte uitgevoer word. Hierdie uitvoer wat sowat 50% na Afrika en 50% oorsee gaan speel ’n groot rol in voedselsekerheid.”
Hy noem ook die uitdagings wat oorbly soos swak dienslewering deur plaaslike owerhede. Plaaslike gemeenskappe neem toenemend verantwoordelikheid vir die instandhouding van ouetehuise, skole, en kerke. “Dit is landboubesighede soos Senwes en ander wat help om hierdie gemeenskappe lewendig te hou.”
Hy sluit af met ’n boodskap van inspirasie: “Ja, ons kan baie kritiek lewer en ’n mens moet. Maar, die belangrike ding is: leer uit die verlede en hoop vir die toekoms, want daai ding is ’n werkwoord. Dis ’n werklikheid; dis die ding wat ons ’n kontrak gee met môre en ’n rede gee om aan te gaan."
OFM Agri dg