On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Senwes-groep behaal bevredigende tussentydse resultate ondanks uitdagende landbousiklus

───   06:30 Thu, 12 Dec 2024

Senwes-groep behaal bevredigende tussentydse resultate ondanks uitdagende landbousiklus | News Article
Senwes HUB, Francois Strydom, tydens die maatskappy se verjaarsdagviering by NAMPO Oesdag. Foto: Senwes

’n Gebalanseerde strategie en konsolidasie het daartoe bygedra dat die Senwes-groep te midde van ’n uitdagende landbousiklus bevredigende tussentydse resultate kon bekend maak.

“Vir die ses maande tot en met 31 Oktober het die groep ’n omset van R 7 177 miljoen rapporteer met ’n wins na belasting toeskryfbaar aan aandeelhouers van R241 miljoen en genormaliseerde wesensverdienste per aandeel van 143,5 sent,” lui ’n verklaring van die groep.

Volgens Francois Strydom, Senwes se hoof- uitvoerende beampte, het graanoeste vanjaar onder lae reënval aan die begin van die jaar gesteier wat daartoe aanleiding gegee het dat die nasionale opbrengs op mielies (wit en geel) 22% laer as verlede jaar was.

Strydom sê dis egter belangrik om altyd die sikliese aard van landbou in gedagte te hou wanneer rapportering gedoen word.

“In die landbou is daar bepaalde tendense wat telkens te voorskyn kom. Dit is om hierdie rede dat Senwes sy risiko so goed as moontlik versprei met strategiese aanpassings wat oor die langtermyn volhoubaarheid verseker.”

In die lig hiervan noem Strydom, binne hierdie konteks, het die tussentydse resultate van die groep in hierdie uitdagende jaar steeds beter presteer as die volle-jaar-resultate van onlangse periodes. “Dit is te danke aan verkrygings (plaaslik en internasionaal) sowel as suksesvolle risikobestuur wat die groep se stategiese rigting die afgelope jare rig.”

Volgens Carl Klingenberg, hoof- finansiële beampte van die groep, is dit van kardinale belang om nou nog meer effektief te werk om die potensiaal van die groep te verhoog deur waarde te skep. Hy stel voorts daar word in die tweede helfte van die jaar gekyk hoe om die potensiaal van Senwes te verhoog en nuwe geleenthede te benut.

“Ons kyk ook na syfers soos ons kapitaalverhouding, wat verbeter het van 30,5% na 36,4%. Dit is ’n aansienlike verbetering en gee ons die vermoë om te kyk na nuwe geleenthede.

“Positiewe tendense begin ook vorm aanneem. Inflasie is besig om te daal, insetkoste vir produsente het die afgelope ses maande afgeneem, en rentekoerse het onlangs verlaag. Hierdie faktore kan die besigheidsomgewing vir insetverskaffing en verwerking verbeter.”

‘Werkloosheid bly ’n groot uitdaging’

Volgens Strydom staan Suid-Afrika nou ook effe meer neutraal met die pas-afgelope verkiesings wat afgehandel is. 

“Politieke posisionering in BRICS-lande en die VSA sal belangrik wees, maar Suid-Afrika moet strategies neutraal bly om voordeel te trek uit internasionale handel. Werkloosheid bly egter ’n groot uitdaging.

“Om werk te skep in landbou, voedselverwerking en kleinhandel is noodsaaklik. Werkskepping en waardeskepping in die ekonomie is nodig vir volhoubare groei,” sluit Strydom af.

Verklaring verskaf

OFM Agri mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.