On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Uitdagende jaar vir rooivleisprodusente, maar daar’s steeds positiewes

───   ELZETTE BOUCHER 05:00 Thu, 12 Dec 2024

Uitdagende jaar vir rooivleisprodusente, maar daar’s steeds positiewes | News Article
Foto: Getty Images

Dr. Frikkie Maré, hoof- uitvoerende beampte van die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO), kyk terug op ’n uitdagende jaar vir die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf.

Maré, wat sedert Februarie vanjaar aan die stuur van die RPO staan, beskryf 2024 as een van die moeilikste jare vir rooivleisprodusente in onlangse geheue. “Ons boere het lanklaas soveel uitdagings in een jaar ervaar.”

Hy meen een van die grootste struikelblokke was die daling in produsentepryse. “Die ekonomiese druk op verbruikers het beteken dat produsentepryse oor die afgelope twee jaar met sowat 25% gedaal het. Stygende rentekoerse en ’n algehele afname in koopkrag het bygedra tot hierdie tendens.”

Terselfdertyd het insetkoste skerp gestyg, ver bo inflasievlakke. “Faktore soos internasionale konflikte en probleme met invoere het insetpryse laat toeneem.”

Dieresiektes het ook ’n groot tol geëis. “Ons het die jaar weer te doen gekry met bek-en-klouseer-uitbrekings, veral in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.”

Tog was dit nie alles net sleg nuus nie. Maré het enkele hoogtepunte van die jaar uitgelig, insluitend die opening van nuwe uitvoermarkte ten spyte van die uitdagings rondom dieregesondheid. “Ons het daarin geslaag om ons afhanklikheid van die binnelandse mark effens te verminder.”

Verder het goeie reënval in sekere dele van die land hoop gebring. “Hoewel nie alle gebiede goeie reën gehad het nie, het sommige boere beter gevaar as in die onlangse verlede.”

‘Ons wens elke rooivleisboer ’n geseënde feestyd toe’

Die RPO het ook vordering gemaak in die bou van beter verhoudinge met regeringsinstansies en beleidskeppers. “Ons werk hard om deure oop te maak en saam te werk vir die toekoms.”

Met die feestyd om die draai, het Maré ’n boodskap van hoop en dankbaarheid aan produsente gerig.

“Ons wens elke rooivleisboer ’n geseënde feestyd toe en hoop dat die grootste geskenk oorvloedige reën sal wees, veral in die droër sentrale en westelike dele van die land.”

OFM Agri mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.