On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Landbou in 2024: ’n Jaar van Uitdagings en Hoop

───   ELZETTE BOUCHER 11:48 Mon, 09 Dec 2024

Landbou in 2024: ’n Jaar van Uitdagings en Hoop | News Article
AgriSA se kongres in Kaapstad in Oktober, 2024. Foto: Silver Dune Photography

Die afgelope jaar het bewys dat landbou in Suid-Afrika steeds een van die land se mees veerkragtige sektore bly, maar nie sonder aansienlike uitdagings nie.

Volgens Jolanda Andrag, hoofbedryfsbeampte van AgriSA, het 2024 “ ’n komplekse mengsel van plaaslike en globale druk” op die sektor geplaas.

Uitdagings in 2024

Andrag wys daarop dat boere hulself moes aanpas by ’n onstabiele globale ekonomie. “Die jaar is gekenmerk deur stygende insetkoste en dalende kommoditeitspryse, terwyl die internasionale handel geraak is deur geopolitieke konflikte, insluitend die oorloë tussen Oekraïne en Rusland, asook tussen Israel en Palestina.”

Klimaatsverandering het ook ’n groot invloed gehad. “Hierdie jaar gaan die warmste jaar op rekord wees, wat die droogtes wat graanboere in die somermaande ervaar het, verder vererger het.” Dieregesondheid, veral in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal, het die lewendehawebedryf geraak, en infrastruktuurprobleme, soos swak paaie en gebrekkige dienste in landelike gebiede, bly groot struikelblokke.

Elektrisiteitsvoorsiening deur Eskom het ietwat verbeter, maar sekere gebiede, soos Queenstown, ervaar steeds langdurige onderbrekings. “Basiese dienste soos krag en water bly ’n noodsaaklike prioriteit,” voeg sy by.

Hoogtepunte in 2024

Tussen die uitdagings deur was daar ook ligpunte. Agri SA het vanjaar hul 120ste bestaansjaar onder die tema “Groen Horisonne” gevier. Hierdie mylpaal is met trots gevier tydens ’n spesiale kongres in Kaapstad, wat die rol van verhoudings binne landbougemeenskappe en deur die waardeketting beklemtoon het.

Volgens Andrag het die sektor merkbare vordering gemaak:

  • Nuwe markprotokolle vir melk, wol en rooivleis is in werking gestel.
  • Transnet het verbeteringe getoon in die spoed van goedere wat deur hawens beweeg.
  • Die Landbank se skuld is geherstruktureer, wat die bank in staat stel om weer besigheid te doen en lenings aan te bied.
  • ’n Toename in vrugte-uitvoervolumes was ’n positiewe teken vir die sektor.

Andrag het ook die rol van hernubare energie uitgelig: “Boere se belegging in sonkrag is indrukwekkend en dui op ’n verbintenis tot groen boerdery en emissievermindering.”

Spesiale boodskap aan die landbousektor

Met die feestyd om die draai deel AgriSA ’n spesiale boodskap aan boere en hul gemeenskappe: “Landbou se sterkste bate is die sosiale kapitaal binne georganiseerde landbou. Ons hoop dat hierdie tyd vir boere en hul families spesiaal en betekenisvol sal wees.”

Andrag het die belangrikheid van gesinsbande en die deel van kennis oor generasies uitgelig as een van die hoekstene van suksesvolle landbou in Suid-Afrika. “Geseënde feestye aan al ons boere en hul gesinne,” sluit sy af.

Landbou in Suid-Afrika is ongetwyfeld ’n sektor wat, ten spyte van talle struikelblokke, steeds ’n simbool van hoop en volharding bly.

OFM Agri cg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.