Agriculture
Droogte dreig plek-plek in Sentraal-Suid-Afrika─── KAREN VAN DER BERG 08:24 Wed, 04 Dec 2024
Weens die lae reënval en gepaardgaande hoë temperature wat vir die komende somermaande voorspel word, neem kommer oor droogtetoestande veral in die landboubedryf toe.
Hoewel ’n volskaalse droogte nog nie amptelik verklaar kan word nie, beleef groot dele van die Vrystaat, Noordwes en Noord-Kaap reeds knellende droogtetoestande, sê Burre Burger van Droogtehulp.
“Dit wissel op die oomblik van streek tot streek. Baie boere sukkel reeds weens lae reënval en die uitmergelende hitte wat oeste se opbrengste in gedrang bring. Heelwat weivelde is ook weens die versengende hitte verdroog.”
Hy sê graanprodusente ondervind reeds groot verliese weens onvoldoende water vir hulle somergewasse. “Veeprodusente sukkel om voer te bekom omdat baie natuurlike veld reeds uitgeput is. Sommige velde moet ook nog herstel van die skade van veldbrande.”
‘Talle navrae om hulp’
Kommersiële boere verkeer onder druk. “Ons ontvang reeds talle navrae om hulp. Die nood is groot en die hulp is beperk.”
Burger sê onsekerheid heers. “Die volgende paar maande gaan bepalend wees oor hoe die toestande gaan uitspeel. Die effek van die temperature gaan beslis later gevoel word.”
Droogte is nooit net die landbouprodusente se probleem nie, sê Burger; dis die hele land s’n. “Droogte behoort as ’n nasionale ramp beskou te word. Dit bring voedselsekerheid in gedrang. Boere moet die kos wat ons eet, kan produseer.”
‘Dit hou ook ekonomiese gevolge vir die land in’
Wanneer hulle sukkel, daal die produksie en kospryse styg. Dit het ’n groot invloed op almal. “Dit hou ook ekonomiese gevolge vir die land in. Landbou is ’n sleutelrolspeler in die Suid-Afrikaanse ekonomie.”
Burger pleit by mense om betrokke te raak en boere by te staan op enige manier wat hulle kan. “Daar is verskillende maniere om te help. Mense kan donasies gee, of help met voerskenkings of selfs net vervoerkoste dek.”
‘Enige soort bemoediging is nodig’
Hy sê emosionele ondersteuning en gebede moet nie onderskat word nie. “Enige soort bemoediging is nodig omdat droogte ’n enorme impak op mense het.”
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku dat verskeie hittegolwe met gepaardgaande brandgevaar vir die volgende paar dae kan voortduur. Die kwik sal in dele van Noordwes, die Vrystaat en Noord-Kaap bo 40°C gaan draai.
Besoek Droogte Hulp se webtuiste om te kyk hoe jy betrokke kan raak.