On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Topboere verteenwoordig Sentraal-SA by nasionale toekennings

───   09:43 Thu, 21 Nov 2024

Topboere verteenwoordig Sentraal-SA by nasionale toekennings | News Article

Sentraal-Suid-Afrika spog met vier finaliste in gesogte Produsent van die Jaar-kompetisies waarvan die wenners vanaand aangekondig word.

Die wenners van die Agri-SA Toyota Jongboer-, Toyota New Harvest- (Nuwe Oes) en Toyota Communal Association-kompetisies word vanaand (Donderdag, 21 November 2024) in Johannesburg bekend gemaak.

Volgens prof. Carlu van der Westhuizen van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie Vrystaat, in Bloemfontein, wat die sameroeper van die paneel beoordelaars is, is daar agt nasionale finaliste in die Jongboer-kompetisie, met ’n nuwe Hilux-bakkie op die spel. 

Die twee finaliste uit Sentraal-SA is: Hannes Bruwer van Hopetown, die 2024 Noord-Kaap Jongboer van die Jaar, wat boer met koring, gars, mielies, springmielies, uie, beet, lusern, erte, witbone en wild; asook Kobus Beyers van Makwassie, die 2024 Noordwes Jongboer van die Jaar, wat boer met mielies, sojabone, sonneblomme, kommersiële beeste en stoetskape.

In die New Harvest-kompetisie, waarvan die wenner ook met ’n nuwe Hilux kan wegry, is Phillip Manoto van Lichtenburg, genomineer deur Graan SA, ’n finalis. Hy boer met mielies, sonneblomme en vleisbeeste.

Die Modulaqhowa Primary Cooperative Limited van Botshabelo, onder voorsitterskap van Lindiwe Ludada, is as finalis aangewys in die Communal Association-kompetisie. Die koöperasie, genomineer deur die Vrystaatse Departement van Landbou, produseer groente-saailinge, inheemse bome, vrugtebome en struike, met ’n prys van R150,000 op die spel.

OFM Agri cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.