Agriculture
TLU SA betreur ondertekening van Onteieningswet─── 18:30 Thu, 23 Jan 2025
Groot kommer is ontlok met President Cyril Ramaphosa se ondertekening van die omstrede Wet op Onteiening. TLU SA het die besluit skerp gekritiseer en beskryf dit as ’n ernstige bedreiging vir eiendomsreg, ekonomiese stabiliteit en voedselsekerheid.
Die regering beskou die nuwe wet as ’n instrument vir transformasie en openbare belang, maar volgens TLU SA dui die wet op ’n “ernstige aanval op die grondslag van eiendomsreg, wat nie net boere nie, maar alle Suid-Afrikaners bedreig”. Die vae definisies van “regverdige en billike vergoeding” asook “openbare belang” maak voorsiening vir misbruik, korrupsie, en onregverdige praktyke.
'Ideologie bo ekonomiese realiteite'
Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder, het die regering se besluit hewig gekritiseer. “Terwyl die meeste Suid-Afrikaners sukkel om die land se ekonomie aan die gang te kry, bly die regering steeds vasgevang in ’n oorwinning van ideologie bo ekonomiese realiteite. Dit is hartseer dat die regering dink hy sal internasionale en plaaslike belegging aanlok na die ondertekening van hierdie wet.”
Van Zyl het verder beklemtoon dat die ondertekening van die wet ’n “herhaling van verkeerde keuses is, met die hoop dat die ekonomie sal groei ondanks hierdie skadelike beleid”.
Landbou en voedselsekerheid in gevaar
Die lanbougemeenskap, wat reeds gebuk gaan onder hoë insetkoste, onstabiele markte en stygende misdaad, sal nou verder onder druk geplaas word. “Hierdie wet bedreig nie net boere se finansiële sekerheid nie, maar ook hul vermoë om voedselsekerheid vir die land te verseker,” het TLU SA gewaarsku.
Van Zyl het spesifiek verwys na die potensiaal vir voedselsekerheidsprobleme. “As die grond waarop ons voedsel verbou word, onteien word sonder die nodige kapasiteit om dit produktief te bestuur, sal miljoene Suid-Afrikaners die gevolge dra in die vorm van stygende kospryse en moontlike voedseltekorte.”
Skade aan beleggersvertroue en ekonomiese stabiliteit
“Deur die grondslag van eiendomsreg te ondermyn, stuur die regering ’n gevaarlike boodskap aan plaaslike en internasionale beleggers,” het Van Zyl gewaarsku. “Die land se ekonomiese groei hang af van duidelike en konsekwente beleid wat regsekerheid waarborg. Hierdie wet bedreig almal wat afhanklik is van ’n stabiele ekonomie.”
Alternatiewe oplossings bestaan
TLU SA het reeds in 2005 ’n ekonomies volhoubare model voorgestel om grondtoegang vir nuwe toetreders te fasiliteer sonder om eiendomsreg in gedrang te bring. Van Zyl het benadruk dat “grondonteiening nie die regte pad is nie” en dat die regering moet fokus op markgebaseerde oplossings wat korrupsie en wanbestuur uitskakel.
“Die beskikbaarstelling van grond moet geskied binne ’n raamwerk wat regte respekteer en regverdig is vir alle partye. Nuwe toetreders moet kundige ondersteuning ontvang om suksesvol te wees.”
Oproep tot herroeping
TLU SA het ’n dringende beroep op die regering gedoen om die gevaarlike implikasies van die Onteieningswet te oorweeg en dit onmiddellik te herroep. Volgens Van Zyl raak hierdie wet “nie net boere nie, maar elke burger se reg op eiendom en die toekoms van ons land.”
“Suid-Afrika verdien beter as beleid wat die grondslag van ons ekonomie en voedselproduksie in gedrang bring,” het hy afgesluit.