On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

Vroue in Landbou: Bothaville se Janine Honiball g’n kruidjie-roer-my-nie

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Thu, 22 Aug 2024

Vroue in Landbou: Bothaville se Janine Honiball g’n kruidjie-roer-my-nie | News Article
Janine Honiball en haar kinders, Niene, Dene, en Daniel. Foto verskaf

“Die rol van vroue in die landbou is onontbeerlik. Ek glo dat elke vrou met ’n droom ’n groot bydrae kan lewer tot die volhoubaarheid en groei van die sektor.”

Gebore en getoë in Bothaville was haar wortels reeds vroeg diep in landbou gevestig. Janine Honiball, die dinamiese agripreneur en stigter van LaVie Herbs, beskryf landbou as deel van haar identiteit, Sy het grootgeword tussen die mielielande en het die uitdagings van boerdery van kleins af leer ken.

Haar pad na sukses het begin in 2018 toe sy besluit het om gesonder te eet en preserveermiddels uit haar dieët te sny. Hierdie soeke het haar daarna gelei om kruie in haar groentetuin te plant. Wat begin het as ’n eenvoudige projek om gesonde geurmiddels vir haar gesin se kos te verskaf, het vinnig gegroei tot ’n passie vir vars kruie. “Die reuk en smaak van vars kruie het my dadelik vasgevang.”


Binne twee jaar het sy ’n kontrak met Checkers gesluit om vars kruie te lewer wat gelei het tot die stigting van haar kleinsakeonderneming, LaVie Herbs. Vandag lewer haar span twee keer per week 33 verskillende soorte vars kruie en spinasie aan Checkers wat dit versprei oor die Vrystaat, Noord-Kaap, dele van Noordwes, en Lesotho. Haar onderneming het ook gegroei tot drie pakkamers waar sy seisoenale werk verskaf aan 18 vroue.

As een van slegs twee kruieboere in die Vrystaat was Honiball se reis nie sonder uitdagings nie. Sy het baie tyd bestee om die nodige kennis op te bou oor die beste praktyke vir kruieboerdery soos hoe om plae en siektes te bestuur. Sy erken die les wat sy die meeste waardeer is dat ’n mens met genoeg deursettingsvermoë en kreatiwiteit enige struikelblok kan oorkom. “’n Boer maak ’n plan, maar ’n vrou maak twee,” vertel sy laggend.

Janine Honiball se pa, Willem Slabbert, het haar alles geleer van boerdery. Foto verskaf

Haar visie vir die toekoms van landbou in Suid-Afrika is vol hoop, veral vir vroue. “Ek hoop dat meer vroue die landbou sal betree en dat meer kleinsakeondernemings, soos LaVie Herbs, sal lei tot meer werkskepping in ons land.”

Sy glo die rol van vroue in die landbou is onontbeerlik en dat hulle ’n groot bydrae kan lewer tot die volhoubaarheid en groei van die sektor.

OFM Agri/Robyn Schutte dgdg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.