Agriculture
Groot afwagting op moontlike rentekoersveranderinge─── 13:45 Wed, 31 Jul 2024
“Markte kan moontlik sywaarts beweeg tot die wisselkoers ’n defnitiewe rigting inslaan.”
Dr. Johnny van der Merwe, ekonoom, vertel hoe rentekoersveranderinge die ekonomie en landbousektor kan beïnvloed. Die rand het verswak tot R18,37 teenoor die dollar, terwyl die Amerikaanse inflasiesyfers daarop dui dat rentekoersverlaging moontlik is. Die Federale Reserweraad se besluit later vandag (31/7) kan hierdie verwagting bevestig.
Die Brent-ruolieprys het tot $78,80 per vat gedaal, maar konflik in die Midde-Ooste kan die aanbod beperk en die mark beïnvloed. As Amerika sy rentekoerse verlaag kan dit weer ondersteuning aan die mark gee namate ons na die einde van die jaar beweeg.
Op Safex het witmieliepryse tot R5,415 per ton gedaal, met die 25 Julie-prys op R4,100. Geelmieliepryse is ook laer op R4,140 per ton met druk op internasionale markte weens ideale produksieomstandighede in Amerika en groot oeste in Brasilië.
China is agter met die invoer van nuwe seisoenmielies en -sojabone omdat hy moontlik wag vir laer pryse. Die plaaslike geelmielie-oesskatting is effens laer, maar het nie ’n noemenswaardige uitwerking op pryse gehad nie. Die vraag na meel en hominy chop verswak, wat ’n negatiewe invloed op lang termyn kan hê.
Sojaboonpryse het skerp gedaal tot R8,750 per ton, terwyl die sonneblompryse gedaal het tot R9,255 per ton. Koringpryse is laer op R6,060 per ton, met ’n verwagte rekordoes in Amerika. Plaaslik word ’n daling van 6,7% in koringhektare verwag wat moontlik duurder invoer kan vereis. Van der Merwe sê dat markte sywaarts kan beweeg totdat die wisselkoers ’n definitiewe rigting inslaan.