On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Landbank omdraaiplan op koers – HUB

───   ELZETTE BOUCHER 08:26 Mon, 28 Oct 2024

Landbank omdraaiplan op koers – HUB | News Article
Themba Rikhotso (middel) tydens ’n paneelbespreking by die AgriSA-kongres. Foto: Silver Dune Photography

Met die omkeerproses wat vorder, is die Landbank vol vertroue dat hulle ’n deurslaggewende rol sal speel in die bevordering van landbou en die versekerings van voedselsekerheid in Suid-Afrika.

Die afgelope 18 maande was uitdagend, maar vrugbaar vir Themba Rikhotso, die uitvoerende hoof van die Landbank. Hy’s in April 2023 die taak gestel om die bank te herstel en op ’n volhoubare pad te plaas. Voor hierdie pos het hy meer as 18 jaar by die Standard Bank-groep gewerk.

In ’n onderhoud met OFM Agri tydens die AgriSA-kongres in Kaapstad, het Rikhotso teruggekyk op die pad wat hulle gestap het en die uitdagings en suksesse van die bank gedeel.

“Ons het baie gefokus op die omkeer van die bank en die onderhandeling van ’n oplossing met ons skuldeisers. In September kon ons aankondig dat ons die wanbetaling van die bank opgelos het en nou kan ons ten volle fokus op die verdere herstel van die Landbank.”

@ofm.agri

Met die omkeerproses wat vorder, is die Landbank vol vertroue dat hulle ’n deurslaggewende rol sal speel in die bevordering van landbou en die versekerings van voedselsekerheid in Suid-Afrika.

? original sound - OFM Agri

Die Landbank het ’n herstrukturering ondergaan wat op 1 April vanjaar in werking getree het. Volgens Rikhotso is alles op koers, met nuwe vaardighede en strukture wat in alle provinsies geïmplementeer is. Dit stel die bank in staat om effektief te begin funksioneer en by te dra tot landbou-ontwikkeling in die land.

Rikhotso meen een van die groot suksesse van die Landbank is die groeiende gebruik van gemengde finansiering. “Ons het al byna R2 miljard se gemengde finansieringsfasiliteite goedgekeur en meer as 200 ontwikkelende boere in die kommersiële sektor ingebring.”

Hoewel die Landbank sterk fokus op opkomende boere, verseker Rikhotso dat hul produkte ook kommersiële boere dien. “Meer as 70% van ons kliënte is groot kommersiële boere. Ons verskaf langtermynfinansiering, produksiefinansiering en selfs finansiering vir landboutoerusting.”



Die Agro-Energiefonds is een van die inisiatiewe wat veral op kommersiële boere gemik is. “Die fonds is beskikbaar vir al ons kliënte – groot, klein en mega-boere – om toegang te kry tot finansiering vir alternatiewe energieprojekte.”

Rikhotso is veral opgewonde oor die toename in jongmense wat belangstel in landbou. “Ons sien ’n toekoms waarin die land in goeie hande sal wees. Baie jong mense begin nou die belangrikheid van boerdery besef, en die Landbank is gereed om hulle te ondersteun.”

Die gemiddelde ouderdom van boere in Suid-Afrika is oor die 65 jaar, en daar is ’n dringende behoefte aan jong boere om die toekoms van die sektor te verseker. “Ons het spesiale oplossings vir jong mense en hou tred met ons vordering in die finansiering van jong boere.”

OFM Agri/Elzette Boucher-Krüger cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.