Agriculture
Sesde produksieskatting vir somergewasse vrygestel─── 05:00 Tue, 30 Jul 2024
“Die sesde produksieskatting vir somergewasse en die voorlopige oppervlakteskatting vir wintergewasse vir 2024 is verlede Vrydag (26/7) bekend gemaak.”
Die sesde produksieskatting vir somergewasse en die voorlopige oppervlakteskatting vir wintergewasse vir 2024 is verlede Vrydag (26/7) bekend gemaak. Volgens Marguerite Pienaar, junior ekonoom by Graan SA, bied die jongste data insiggewende besonderhede oor die produksie van verskeie belangrike gewasse in Suid-Afrika.
Somergewasse 2024
Mielies
Die verwagte kommersiële mielieoes vir 2024 word op 13,333 miljoen ton geskat, wat ’n afname van 0,53% of 71 250 ton verteenwoordig in vergelyking met die vorige skatting van 13,405 miljoen ton. Hierdie geskatte oes is ook 18,85% of 3,097 miljoen ton minder as die oes van 2023. Die drie grootste mielieproduserende provinsies, naamlik Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes, sal na verwagting 79% van die oes lewer.
Die produksieskatting van witmielies bly onveranderd op 6,348 miljoen ton, met ’n geskatte oppervlakte van 1,555 miljoen ha en ’n verwagte opbrengs van 4,08 t/ha. Die produksieskatting van geelmielies is 6,986 miljoen ton, wat 1,01% of 71 250 ton laer is as die vorige skatting van 7,057 miljoen ton. Die geskatte oppervlakte vir geelmielies is 1,082 miljoen ha, met ’n verwagte opbrengs van 6,46 t/ha.
Sonneblomsaad
Die produksieskatting vir sonneblomsaad bly onveranderd op 649 250 ton. Die geskatte oppervlakte beplant met sonneblomsaad is 529 000 ha, met ’n verwagte opbrengs van 1,23 t/ha.
Sojabone
Die produksieskatting vir sojabone bly ook onveranderd op 1,779 miljoen ton. Die geskatte oppervlakte beplant met sojabone is 1,151 miljoen ha, met ’n verwagte opbrengs van 1,55 t/ha.
Grondbone
Die verwagte grondbone-oes is 53 755 ton, wat ’n afname van 1,26% of 685 ton verteenwoordig in vergelyking met die vorige skatting van 54 440 ton. Die geskatte oppervlakte beplant met grondbone is 41 200 ha, met ’n verwagte opbrengs van 1,30 t/ha.
Sorghum
Die produksieskatting van sorghum bly onveranderd op 95 830 ton. Die geskatte oppervlakte beplant met sorghum is 42 100 ha, met ’n verwagte opbrengs van 2,28 t/ha.
Droëbone
Die produksieskatting vir droëbone is 49 560 ton, wat 5,04% of 2 630 ton minder is as die vorige skatting van 52 190 ton. Die geskatte oppervlakte beplant met droëbone is 39 550 ha, met ’n verwagte opbrengs van 1,25 t/ha.
Wintergewasse 2024
Die voorlopige oppervlakteskatting vir wintergewasse, gebaseer op ’n opname deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se Direktoraat: Statistieke en Ekonomiese Analise, weerspieël die situasie teen die middel van Julie 2024.
Koring
Die voorlopige skatting van die oppervlakte beplant met koring beloop 502 000 ha, wat ’n daling van 6,68% of 35 950 ha is in vergelyking met die vorige seisoen se 537 950 ha. In die Wes-Kaap is die beraamde oppervlakte 363 000 ha, wat 2 000 ha minder is as die vorige seisoen. In die Vrystaat is die beraamde oppervlakte 51 000 ha, wat 21 000 ha minder is. In die Noord-Kaap is die beraamde oppervlakte 38 000 ha, 2 000 ha minder as die vorige seisoen.
Gars
Die voorlopige oppervlakteskatting vir gars is 102 050 ha, wat ’n afname van 5,16% of 5 550 ha verteenwoordig in vergelyking met die vorige seisoen se 107 600 ha.
Kanola
Die oppervlakte beplant met kanola het met 11,43% of 15 000 ha toegeneem tot ’n geskatte 146 200 ha, wat ’n rekordaanplanting sal wees indien dit realiseer.
Die voorlopige oppervlakteskatting vir hawer is 28 400 ha en vir soetlupine 16 000 ha.
Die sewende produksieskatting vir somergewasse vir 2024, word op 28 Augustus 2024 vrygestel.
OFM Agri/Robyn Schutte mvh/cg