On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 Classic Sundays with Tony
Listen Live Streams

Agriculture

Bek-en-klouseer in Oos-Kaap: Vervoer beperk

───   12:21 Sat, 27 Jul 2024

Bek-en-klouseer in Oos-Kaap: Vervoer beperk | News Article
Foto: municipalities.co.za

“Die Departement van Landbou beveel sterk aan dat alle veeprodusente in die hele land die beweging van diere so ver as moontlik beperk.”

In ’n verdere poging om die verspreiding van bek-en-klouseer (BKS) uit die geaffekteerde gebiede in die Kouga- en Kou-kamma Munisipaliteite van die Oos-Kaap te voorkom, het die Departement van Landbou Vrydag (26/7) ’n siektebestuursgebied (SBG) verklaar wat dele van die Kouga- en Kou-kamma Munisipaliteite insluit.  

Luidens ’n verklaring, sal die SBG dit moontlik maak om die beweging van diere uit, na en binne die geaffekteerde gebied te beheer in ’n poging om die verspreiding van die siekte te voorkom. Verder het die SBG ten doel om verdere verspreiding van die siekte binne die geaffekteerde gebied te verminder.

Die SBG, wat in die Staatskoerant publiseer is, is as volg:

  • Die westelike grens is die Grootrivier.
  • Die noordelike grens is die voortsetting van die Grootrivier waar dit oos draai, tot waar die Grootrivier aansluit by die grens van die Witelsbos Staatsbos. Dan langs die suidelike en oostelike grens van die Witelsbos Staatsbos tot by die R402, van daar langs die R402 tot by die R62. Dan langs die R62 tot by die N2. Dan langs die N2 tot by die R330. Dan langs die R330 in ’n noordelike rigting tot waar die R330-pad kruis met die Kabeljousrivier.
  • Die oostelike grens is die Kabeljousrivier.
  • Die suidelike grens is die Indiese Oseaan.
  • Insluitend alle plase wat deur hierdie grense oorskry word.

“Geen gespleethoewige diere, afgeleide diereprodukte of genetiese materiaal van hierdie diere mag vanaf, na of binne die siektebestuursgebiede van die Oos-Kaap verskuif word nie, behalwe onder die gesag van ’n staatsveeartspermit soos bepaal in Regulasie 20 (1) van die Regulasies en in ooreenstemming met die voorwaardes van sodanige permit.”

Volgens die departement het beeste op 26 plase positief getoets vir die siekte en is ingeënt om die virale lading te verminder. Positiewe plase is onder kwarantyn geplaas met streng bewegingsbeheer.

“Versoeke is ontvang om voorkomend melkbeeste in te ent op plase wat nie as BKS-positief bevestig is nie, maar ’n hoë risiko vir infeksie gehad het. Toestemming is gegee om beeste op 29 plase voorkomend in te ent. Diere op ’n verdere sewe plase is ingeënt nadat veeartse verdagte kliniese tekens aangemeld het. In totaal is 84 655 diere op 62 plase ingeënt.”

Benewens die beheermaatreëls vir die Oos-Kaap, bepaal die kennisgewing in Julie 2024 se Staatskoerant ook dat spleethoewige vee slegs verskuif mag word indien dit vergesel word deur ’n gesondheidsverklaring van die eienaar van die diere. Alle beeste, skape en bokke wat nuut op ’n plaas ingebring word, moet vir ten minste 28 dae van die bestaande troppe geskei word. “Dit is sedert Oktober 2022 ’n wetlike vereiste, maar die belangrikheid hiervan word weer beklemtoon. Die Departement van Landbou beveel sterk aan dat alle veeprodusente in die hele land die beweging van diere so ver as moontlik beperk.”

Boere word weer aangespoor om biosekuriteit op hul plase na te kom en hul eie troppe te beskerm teen infeksie met siektes. “Artikel 11 van die Wet op Dieregesondheid lê ’n wettige plig op enige eienaar of bestuurder van diere om alle redelike stappe te neem om te voorkom dat hul diere met enige siekte besmet raak en om die verspreiding van enige siekte van hul diere of grond na ander diere of ander eiendomme te voorkom.”

BKS is ’n beheerde dieregesondheid in terme van die Wet op Dieregesondheid, 1984 (Wet No. 35 van 1984) en die Wet skryf sekere beheermaatreëls voor, soos isolasie en bewegingsbeheer, wat deur Veeartsenydienste afgedwing word. Enige verdagte kliniese simptome (speeksel, blase in die mond, mankheid of klouletsels) moet onmiddellik by die plaaslike staatsveearts aangemeld word en sulke diere moet onder geen omstandighede verskuif word nie.

OFM Agri cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.