On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Entstoftekorte toenemende risiko, alternatiewe gevra

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Wed, 24 Jul 2024

Entstoftekorte toenemende risiko, alternatiewe gevra  | News Article
Foto: iStock

“Onderstepoort Biological Products (OBP), die staatsentiteit getaak met die vervaardiging van entstowwe om biosekuriteit te handhaaf, is al etlike jare onder skoot weens hul agterstand in lewering.”

Soos Suid-Afrika al meer deur veesiektes en uitbrekings, wat erge gevolge vir verskeie bedrywe inhou, geteister word, is veeartse toenemend bekommerd oor die agterstand in die lewering van entstowwe. 

Onderstepoort Biological Products (OBP), die staatsentiteit getaak met die vervaardiging van entstowwe om biosekuriteit te handhaaf, is al etlike jare onder skoot weens hul agterstand in lewering. Oor die afgelope paar jaar is verskeie insiatiewe in plek gestel om bedrywe in orde te kry en OBP het beloof dat die agterstand teen so vroeg as Augustus vanjaar  uitgestryk sou wees.

Veeartse sukkel egter steeds met toegang tot noodsaaklike entstowwe en vrees dat wanneer milt- en perdesiekte uitbrekings voorkom, dit op ’n ramp kan afstuur.

Dr. Christiaan de Jongh, ’n veearts in die Fouriesburg-distrik vertel die grootste uitdaging met perdesiekte-entstof is die feit dat Onderstepoort nie ’n datum kan verskaf vir wanneer entstof weer beskikbaar sal wees nie. “Ons word net op ’n waglys geplaas. Ek het onlangs by Onderstepoort uitgevind dat hulle nog besig is om die 2023-waglys af te handel.”

OBP se voorsieningsprobleme spruit uit voorvalle van wanbestuur en verouderde toerusting wat intussen aangepreek is, maar die agterstand bly egter beduidend.

Hierdie gebrek het veral ernstige gevolge vir die beskerming van dieregesondheid. Die risiko van siektes wat van een gebied na ’n ander versprei, is groot, en dit kan deelname aan nasionale en internasionale perdekompetisies belemmer.

“’n Spesifieke probleem is om ’n klein area in Kaapstad vry te hou van perdesiekte. Indien ons nie die res van die land kan ent en beskerm nie, is die kans dat ons daai klein area vry van perdesiekte gaan hou, baie klein,” waarsku de Jongh.

Nog ’n ernstige bekommernis is die tekort aan die miltsiekteentstof, wat reeds ’n ernstige uitwerking het op veeartse en boere. By navrae verneem OBP dat hulle ongeveer 700 eenhede beskikbaar het teen die siekte. 

Dr. Brian Reilly van die Universiteit van die Vrystaat beklemtoon die gevare van miltsiekte onder buffels. “Die siekte kan nie net plaaslike veestapels uitwis nie, maar ook uitvoer ernstig belemmer. Dit kan groot ekonomiese en voedselsekuriteitskwessies veroorsaak indien daar ’n uitbreking van miltsiekte in Suid-Afrika plaasvind.”

Toe navrae aan OBP gerig is, het Dr. Jacob Modumo van die senior bestuur erken OBP het oor die afgelope paar jaar groot uitdagings ondervind weens verouderde toerusting en gereelde onderbrekings in die produksieprosesse. Hy het egter belowe dat daar maatreëls in plek is om die situasie te verbeter.

“Ons het onlangs in nuwe toerusting belê, en ons verwag om ons produksie-uitsette binne die volgende paar maande te verhoog. Ons het ook vennootskappe met private maatskappye gesluit om ons te help om die agterstand in te haal.”

OFM Agri het ook navrae aan John Steenhuisen, die minister van landbou, gerig in hierdie verband en wag nog op sy terugvoer.

‘Daar is ’n dringende behoefte aan beter koördinering’

Die voorslepende tekort aan entstowwe vereis egter dringende optrede. De Jongh stel voor dat veeartse eerste toegang moet kry tot die beskikbare entstowwe totdat die produksie terug op dreef is.

Hy het ook beklemtoon dat alternatiewe behandelings en voorsorgmaatreëls getref kan word, soos die gebruik van insek-afweermiddels om perdesiekte te voorkom.

Reilly stem saam en voeg by dat daar ’n dringende behoefte is aan beter bestuur en koördinering tussen OBP, die regering en die landbousektor om toekomstige krisisse te voorkom. “Die huidige situasie is ’n wekroep. Ons moet verseker dat ons land se dieregesondheid en voedselvoorsiening nie verder in gevaar gestel word nie.”

OFM Agri/Robyn Schutte mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.