On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Gebruik van pleeggewasse in vestiging van lusern en koring

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Tue, 23 Jul 2024

Gebruik van pleeggewasse in vestiging van lusern en koring | News Article
Foto: Freepik

“Gewilde keuses vir pleeggewasse sluit in koring, kanola en hawer.”

Die vestiging van meerjarige gewasse soos lusern kan uitdagend wees veral in droë landgebiede waar waterbeperkings en ongunstige omgewingstoestande die groei van jong saailinge kan belemmer. Een benadering om hierdie uitdaging aan te pak is deur die gebruik van pleeggewasse. Prof. Pieter Swanepoel, voorsiter van die Department van Agronomie by die Universitieit Stellenbosch, vertel oor sy navorsing waar koring as pleeggewas vir lusern gebruik is om die doeltreffendheid daarvan in die Suid-Kaap te ondersoek.

Wat is ’n pleeggewas?

Dit is ’n eenjarige gewas wat saam met ’n meerjarige gewas soos lusern geplant word om die jong saailinge te ondersteun en te beskerm. Gewilde keuses vir pleeggewasse sluit in koring, kanola en hawer. Hierdie gewasse help om die ruimte doeltreffend te benut, onkruidgroei te onderdruk, en beskerming teen omgewingsfaktore soos wind en oormatige sonlig te bied.

Bewaringsboerdery 

In die Suid-Kaap waar bewaringsboerderypraktyke algemeen is, word gewasreste as grondbedekking behou om die grond teen erosie te beskerm en grondvog te behou. Hierdie praktyk het egter ook uitdagings, omdat dik lae gewasreste die plantproses kan bemoeilik en die groei van klein saailinge kan belemmer.

Effek van gewasreste en koring 

Die navorsing is naby Swellendam in die Overbergstreek gedoen. Verskillende behandelings is getoets om te bepaal hoe dit lusernvestiging beïnvloed. Die helfte van die omgewing is met gewasreste bedek (4 t/ha), terwyl die ander helfte geen bedekking gehad het nie. Koring is alleen geplant, lusern is alleen geplant en ’n mengsel van koring en lusern is geplant. Die koringkultivar SST 0166 is teen ’n saaidigtheid van 80 kg/ha geplant en die lusernkultivar Aurora teen 10 kg/ha.

Resultate 

Die navorsing is in die African Journal of Range & Forage Science gepubliseer en toon:

  • Lusernprestasies: Lusern het beter gegroei sonder gewasreste met meer as 60 plante/m², vergeleke met 23 tot 37 plante/m² waar reste teenwoordig was.
  • Biomassa produksie: Gewasreste het die biomassa produksie van koring en lusern verhoog waar hulle saam geplant is, moontlik vanweë beter waterbewaring.
  • Koringgehalte: Koring se opbrengs het konstant gebly, maar die proteïeninhoud het gewissel. Koring wat alleen geplant is sonder reste het die hoogste proteïeninhoud gehad.
  • Intergewas kompetisie: Die intergewas kompetisie tussen koring en lusern het verskillende groeiparameters beïnvloed. Lusern het beter gevaar sonder koring.

Gevolgtrekking

Die navorsing toon hoewel die konsep van pleeggewasse belowend is, dit met omsigtigheid benader moet word, veral in die Mediterreense klimaatstreek van Suid-Afrika. Die resultate beklemtoon die belangrikheid van residuebestuur tydens die vestiging van lusern. In droë landstelsels het koring as pleeggewas nie die verwagte voordele vir lusernvestiging gebring nie, aangesien die kompetisie om water ’n beperkende faktor was.

Vir toekomstige navorsing is dit belangrik om die effek van pleeggewasse onder besproeiing te ondersoek, waar water nie ’n beperkende faktor is nie. Boere moet ook die plaaslike konteks in ag neem wanneer hulle pleeggewasse gebruik en die algemene beginsels toepas om die beste resultate te behaal.

OFM Agridg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.