On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Agriculture

Slang in die gras rakende beskikbaarheid van teengif

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Mon, 22 Jul 2024

Slang in die gras rakende beskikbaarheid van teengif | News Article
Die National Snakebite Advisory Board (NSG) werk nou saam met verskeie instansies, insluitend Netcare-hospitale, om die tekort aan teengif te bestuur. Hierdie samewerking sluit die identifikasie van slange en die ondersteuning van ongevalle-offisiere in die veld in. FOTO: iStock

“Die SAVP gebruik ou tegnologie, en hul produksielyn word gereeld onderbreek deur kragonderbrekings, insluitend beurtkrag. Hierdie onderbrekings beïnvloed die hele produksieproses, wat onafgebroke kragvoorsiening benodig.”

Die South African Vaccine Producers (SAVP), ’n subafdeling van die National Laboratory Services, is verantwoordelik vir die vervaardiging van polyvalente en monovalente teengif vir plaaslike slange. Die grootste probleem wat hulle tans ervaar, is ’n gebrek aan produksiekapasiteit en infrastruktuurkwessies.

 “Die SAVP gebruik ou tegnologie, en hul produksielyn word gereeld onderbreek deur kragonderbrekings, insluitend beurtkrag. Hierdie onderbrekings beïnvloed die hele produksieproses, wat onafgebroke kragvoorsiening benodig, vertel dr. Morné Strydom, ’n mediese praktisyn en buitengewone professor by die Universiteit van Pretoria.

“Die huidige infrastruktuur kan nie effektief funksioneer met die gereelde kragonderbrekings wat die land ervaar nie, wat lei tot verdere produksievertraging.

‘Hierdie opwekkers is nie ontwerp om die duur van beurtkragskedules te hanteer nie’ 

“Hoewel SAVP op kragopwekkers staatgemaak het, is hierdie opwekkers nie ontwerp om die frekwensie en duur van die huidige beurtkragskedules te hanteer nie.” Hy vertel verder om hierdie infrastruktuurprobleme op te los, lei dit tot uitgebreide tenderprosesse en goedkeurings van staatsinstansies, wat die proses van opgradering en verbetering gereeld vertraag, wat verdere agterstande veroorsaak.

Die National Snakebite Advisory Board werk nou saam met verskeie instansies, insluitend Netcare-hospitale, om die tekort aan teengif te bestuur. Hierdie samewerking sluit die identifikasie van slange en die ondersteuning van ongevalle-offisiere in die veld in.

Wanneer ’n slangbyt voorkom, verseker hierdie netwerk dat die pasiënt vinnig na die naaste fasiliteit wat teengif beskikbaar het, verwys word. Dit verseker dat pasiënte die nodige behandeling kry en dat die regte teengif vir die spesifieke slangbyt gebruik word.

 

Strydom vertel een van die grootste uitdagings is dat baie dokters, veral jonger dokters, nie voldoende praktiese ervaring het in die hantering van slangbyte nie. Dit kan lei tot behandelingsvertraging en onsekerheid in die toediening van die regte teengif. Daarom is daar ’n dringende behoefte aan beter opleiding en bewustheid onder mediese personeel.

Instansies soos die African Snakebite Institute en African Reptiles in Venom bied kursusse aan om dokters op te lei in die identifikasie en behandeling van slangbyte. Nuwe behandelingsriglyne is ook onlangs in die South African Medical Journal gepubliseer, wat mediese personeel kan raadpleeg.

Strydom en sy span navorsers by die UP is tans besig met navorsing om biomerkers en bloedtoetse te ontwikkel wat kan help om die spesifieke slangspesie te identifiseer op grond van die gif se effekte op bloedstollingsprofiele. Hierdie navorsing kan in die toekoms help om meer ingeligte besluite te neem oor die behandeling van slangbyte, veral in gevalle waar die slang nie visueel geïdentifiseer kan word nie.

Strydom raai lede van die publiek aan om, wanneer hulle of ’n naasbestaande wel deur ’n slang gebyt word, spoedig die National Poison Information Centre (0861 555 777) se hulplyn te kontak. Hierdie sentrum kan pasiënte na die naaste hospitaal met beskikbare teengif verwys en die nodige hulp en advies verskaf.

OFM News/Agriculture cg/mvh



@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.